”More, Tilla.”
”More, my kind. Waar is jy?”
”Ek ruim aan die einde van Julie op in die Wes-Rand, dan is ek vir ‘n rukkie in Pretoria.”
”Wat is in Pretoria?”
”Ek help vir Koen de Waal met ‘n ondersoek.”
”Koen de Waal van Spesiale Ondersoeke?”
”Ja, hy het my gevra om hom te help.”
”Hoe gaan dit met hom?”
”Seker maar soos altyd, hy het nie gekla nie.”
”Wat is sy vrou se naam nou weer?”
”Breggie, maar hulle is verlede jaar geskei.”
”Ag nee! Hoekom dan?”
”As ek moet gaan op die stories wat die rondte doen het hy rondgeloop.”
”Dis nou jammer, sy is ‘n gawe mens.”
”Jy het net eenkeer in jou lewe met haar gesels.”
”En een keer was genoeg om te weet hy het haar nie verdien nie.”
”Moet nou nie weer begin nie, Ma. ‘n Huwelik is privaat.”
”Jy weet hoe ek oor hom voel. Hy is ‘n skelm en daar was seker ‘n goeie rede hoekom sy so verskrik was.”
”Tilla! Sy was glad nie verskrik nie.”
”Ja, sy was. Sy was net oë.”
”Hy is al vir jare ‘n senior beampte, hierdie keer is jy nie reg nie, hy het my lewe gered.”
”En jou nie eenkeer toegelaat om daarvan te vergeet nie. Pa het ook nie daarvan gehou dat jy altyd moes onthou nie. Hy het gemaak asof hy jou toelaat om te lewe. Onsinnigheid! Jy is daardie dag deur groot genade gespaar omdat daar nog goed in jou lewe vir jou wag. Niks met hom te doen nie.
Daar moet nog ‘n van Jaarsveldjie kom om die plaas oor te neem.”
”Ons gaan dit nie weer van voor af bespreek nie, Tilla. Dis nie nodig nie, ek het jou stories al
honderd maal gehoor.”
”Dis nie stories nie, dis beloftes.”
”Ma, ek word een van die dae veertig. Ek het my kans gehad.”
”Eers oor twee jaar en jou regte vrou wag nog iewers vir jou. Jy sal haar kry.”
”Jy was besig om te praat oor Koen de Waal.”
”Mmm ek was, daar is iets baie donker en gevaarlik aan daai man. Ek hoop nie jy sien dit te laat nie.”
”Ma, daar is niks om te sien nie. Ons werk lankal nie meer saam nie.”
”Waar is die Breggie vrou nou?”
”Seker maar in Kaapstad, ek weet nie. Ek het nie gevra nie.”
”Hulle het kinders gehad as ek reg onthou.”
”Ja, twee seuns, maar hulle is al grootmense. Ek dink nie hulle is nog by hulle in die huis nie.”
”Is hulle ook in die Diens?”
”Ek dink die jongste een is ‘n speurder, maar ek is nie seker nie. Ons sal seker beter kuier as die ondersoek verby is, ek is vir die einde van die jaar weer in Durban en Kaapstad.”
”Ek is bly julle werk nie meer saam nie.”
”Gaan jy nou eers weer al die ou koeie uit die sloot grawe en nuwe asem in hulle blaas?”
”Nee, ek gaan nie. Waar is jou ondersoek?”
”In Johannesburg.”
”Waar gaan jy bly?”
”In my eie woonstel.”
”Gaan dit goed met jou, my kind? Ek het jou lanklaas gesien.”
”Ja, dankie Ma, dit gaan goed met my.”
”Ek het van jou gedroom.”
”Die dag as jy ophou droom gaan ons almal baie bekommerd raak.”
”Dit sal nie sommer gebeur nie, dis hoe ek is.”
”Wat het jy gedroom.”
”Ek sien jy staan voor ‘n juweliersware winkel se venster en sien ‘n baie duur horlosie waarvan jy hou. Ek sien hoe jy in jou beursie kyk om seker te maak jy het genoeg geld om daarvoor te betaal.
Maar die manier wat jy na die horlosie kyk is dit iets waarvoor jy al lankal wag, iets waarvan jy
regtig baie hou. Ek dink jy sal ‘n plan maak om genoeg geld te hê om daarvoor te betaal.”
”Wat beteken so duur horlosie wat ek nie kan bekostig nie, ek is nie van plan om die een wat ek dra te vervang nie? Dis Pa s’n, jy het dit vir my gegee na die begrafnis.”
”Nie so horlosie nie! Dis ‘n nuwe tyd wat vir jou gaan aanbreek! Dit sal heeltemal deel word van jou lewe, alles wat jy doen. As jy besluit dis waarvoor jy gewag het wag daar iets nuut en baie kosbaar vir jou, maar dit gaan nie verniet wees nie. Jy sal die prys moet betaal. Ek dink ek het al die winkel ‘n paar keer gesien, maar dis die eerste keer dat ek sien jy kyk by die vester. Dit beteken die tyd is reg.”
”Waarvoor?”
”Dat dinge vir jou moet verander.”
”Ek wil nie hê dit moet verander nie.”
”Tyd staan nie stil nie, my kind. Vir niemand nie, ook nie vir jou nie.”
”Baie diep, Ma, baie diep. En soos altyd is dit so helder soos modderwater. Ek dink nie ek sal
belangstel in iets wat ek nie kan bekostig nie, veral nie by ‘n juweliersware winkel nie.”
”Ek dink nie dit het iets te doen met geld nie, dis ‘n verandering van tyd wat nuwe gedagtes sal saam bring.”
”Nuwe gedagtes! Ag Ma, jy het seker warm gekry of te veel vleis geëet.”
”Jy kan maar met my spot as jy wil, jou Pa sou verstaan het. Ek mis hom so as dit gebeur.”
”Het hy al jou drome verstaan?”
”Nee, maar hy het geluister as ek moes praat.”
”Ek luister ook.”
”My kind, al wat dit beteken is die tyd is reg vir iets nuut. En dit sal jou keuse wees om klaar te
maak met die verlede of nie. Daar is geen sin daarin om vas te hou aan alles wat so lank gelede gebeur het nie. Dit was nie jou skuld nie.”
”Ek gaan volgende jaar met die Johannesburg span begin, dis goedgekeur.”
”Dis die een vir Hillbrow?”
”Ja, dis die een wat Hillbrow en Johannesburg sal in sluit.”
”Is jy reg daarvoor?”
”Ja, ek is reg. Dis nou tyd daarvoor, net soos jy gedroom het en ek is meer as bereid om die prys te betaal. Dis nie iets waaroor ek hoef te besluit nie, ek weet wat ek wil hê en ek sal my gedagtes moet aanpas vir die nuwe uitdaging en dit sal ek graag doen.”
”Nee, dis nie wat ek gesien het nie, jou ander spanne was nie horlosies nie, dis iets anders. Ek sien gewoonlik jy trek ‘n nuwe uniform aan. Wat gaan jy saam met Koen doen?”
”Dis ‘n interne ondersoek.”
”Waar?”
”Johannesburg.”
”Iets wat jy daar verwag?”
”Nee, nie regtig nie, dis deel van ‘n spesiale ondersoek. Dit gaan nie lekker wees nie maar dit moet gedoen word, dis ‘n spesiale Hoofkantoor opdrag.”
”Is Leon Buys nie in Johannesburg nie?”
”Ja, hy is. Ons sal volgende jaar saam werk.”
”En wat van Daleen?”
”Ek dink nie ek sal haar sommer weer sien nie.”
”Is jy gesond, eet jy genoeg, versorg jy jouself so in die koue?”
”Ja, Ma, ek is gesond en ek eet. Dis nie nodig om oor my te bekommer nie, ek kan nou al mooi vir myself sorg.”
”Ek sal bid vir jou ondersoek, jy sal weet wat om te doen.”
”Hoe gaan dit daar?”
”Ek is so bly dis winter, dit was dodelik warm en droog laat somer. Wanneer kom jy weer kuier?”
”Op die oomblik sal ek nie kan tyd maak nie, miskien later as die ondersoek afgehandel is of na Nuwe jaar as die mense weer werk.”
”Jy moet met Coenraad praat as jy kans kry, daar word vreeslik vrugte gesteel op die oomblik. Hy dink ons sal nou oral elektriese heining moet oprig. Veral bo langs die pad, daai bome was amper almal leeg en sleg gebreek. Ek weet nie wat die mense dink nie. Dis seker nie nodig om die takke te breek terwyl jy vrugte steel nie.”
”Ek sal kom kyk voor ek Durban toe gaan, miskien vir ‘n naweek, ek sal met jou kontak.”
”Dit sal lekker wees, ons het jou lanklaas gesien. Slaap jy dan in die rondawel? Ek kan dit laat
skoon maak en opruim as jy wil.”
”Nee wat, dis nie nodig nie, ek slaap sommer op die stoep, dit sal reg wees. Dit sal net vir ‘n paar aande wees. Een of twee op die meeste, ek kan nie langer as dit kuier nie.”
”Wanneer was jy laas ordentlik met vakansie? Nie net vir ‘n naweek nie, wat van jou gesondheid, my kind? Jy kan nie so aangaan nie. Is daar nie reëls oor julle verlof nie?”
”Daar is niks verkeerd met my gesondheid nie, Ma.”
”Goed, goed. Dan sal ek niks verder sê nie, ek mors net my tyd. Eintlik wou ek jou net vertel van die droom. Dis ‘n goeie teken, jy het nuwe kosbare dinge nodig in jou lewe. Jy moet klaar maak met die verlede. Ek hoop jy kies reg as dit tyd is daarvoor.”
”Dankie vir die oproep, Ma, maar ek moet aangaan met my werk. Ek wag vir iemand.”
”Wees asseblief versigtig en kyk wat jy doen, my kind. Ek sien ‘n klomp honde om jou draf.”
”Honde?”
”Ja, wees versigtig.”
”Ek is altyd versigtig.”
”Bye Boeta.”
”Bye Tilla.”
My WordPress Blog
