Skip to content

Yster Boek 2: Opleiding – Hoofstuk 1

Dis die eerste naweek in die nuwe jaar en al die langnaweke is uiteindelik verby.
In die winkel sentrums is die Kersfees liggies afgehaal, die bome is opgepak en almal maak reg om weer aan die gang te kom na die Nuwejaar feesvieringe. Mense het almal weer begin werk en daar is oral ‘n aanvoelbare afwagting.
Op die oomblik nie so baie om oor fees te vier hier in Suid Afrika nie, maar wie het nou ‘n
verskoning nodig om ‘n paar stywe doppe te maak saam met jou vrinne of family?
‘n Choppie is ‘n choppie en saam met pap en sous en ‘n lekker koue bier lyk dinge nie heeltemal so donker nie.
Want wie weet hoe lank ons nog sal kan vleis koop, met die prys van petrol gaan jy dalk nie by die slaghuis kan kom nie, en dit gaan heel moontlik wees terwyl daar beurtkrag is.
Dinge lyk maar kak.
Oral word duur skool benodighede deur gefrustreerde Ma’s aangekoop wat nie kan wag dat die skole net weer moet heropen nie.
Niemand kan so lank vakansie hou nie! Hulle hou net nie op eet nie.
Allamagtig, hulle verstaan nie wat dit kos om so aanhoudend winkel toe te gaan nie.
Tyd dat ander mense weer bietjie begin werk vir hulle geld.
Majoor Yster van Jaarsveld is ook reg vir die nuwe jaar.
Hy het weer in sy eie woonstel ingetrek, al sy uniforms laat versorg en skoon opgehang en op die oomblik is hy besig om kos te koop. Al die kaste in sy woonstel is leeg en niemand gaan dood van honger uit vrye keuse nie.
Gelukkig het die radiostasies nou die Christmas carols ook begin bêre. As Boney M nog een keer weer moet sing van ‘n koue winter gaan dit te veel wees. Heeltemal te veel.
Dit was warm en droog in die Kaap veral as die warm bergwinde waai en hier in Gauteng is daar ook nie sprake van afkoel nie. Januarie en Februarie lê nog voor en dis hoog somer in Suid Afrika.
Come now hear the angels sing, glory to the new born king.
Is dit nie hark nie, ja dis hark now hear the angels sing.
Bietjie kyk wat dit moet wees.
Terwyl hy in die tou wag haal hy sy foon uit sy sak en soek na die lirieke van die bekende snit.
Hark! The herald angels sing!?
Dis nie wat ek hoor nie.
‘n Songebrande man met ‘n wit kort broek en ‘n stywe wit hemp wat dalk nog voor die vakansie gepas het staan saam met sy vrou ook in die tou en dit lyk of hy geteleport het na ‘n ander wêreld.
Hy glimlag effens toe hy sien sy vrou is nie saam met hom op die trip nie. Veral nie toe die
uitgegroeide kind verveeld ‘n rak skeef skop en sy so vies na haar kyk dat die dogter ewe gedwee en stil langs hom gaan staan nie.
Onverwags het sy Ma en twee susters besluit om vir hom te kom kuier en oornag het sy woonstel in ‘n raserige vroue bazaar verander. Hulle lag en gesels en vra uit oor alles.
Gerda is die ouer suster, sy is getroud met Simon en sy het twee tiener seuns. Sy is twee jaar jonger as Yster en sy hou al vir jare skool in die dorp se Hoërskool.
Petro is die kleinsus en sy is getroud met Dawid en sy het ook twee jong seuns. Sy is vier jaar
jonger as Gerda en hulle bly nog altwee op die dorp waar hulle groot geword het.
Sy het ook gaan onderwys studeer maar vroeg vroeg ander werk gaan soek omdat sy nie ander mense se ongemanierde afstammelinge gaan op pas nie.
”Nee dankie, netnou is ek ook op TV Nuus en die Huisgenoot se voorblad omdat ek een of ander onskuldige bloedjie aangerand het.
”Dis beter vir ons almal as ek nie verder skool hou nie. Dis ‘n skande wat ouers hulle kinders toe laat om te doen by die skool.
”Ek weet nie wie dit nog oorweeg om sulke voorbarige kinders te leer lees en skryf nie, daar word met ons gepraat asof ons hulle slawe is.
”Ons maak kriminele groot en daar is niemand wat hoor as ons waarsku nie. Ongemanierde
kriminele wat net goed is vir een ding, die tronk.
”Ek gaan nie verder deel wees van die gemors nie, ouers moet darem hulle deel ook bring. Ons kan tog nie alleen vir almal se kinders verantwoordelik wees nie. Ek het my eie huis en my eie kinders om na om te sien, ek gaan sowaar nie ander mense help wat nie eers skool aande kan bybring nie.”
Gerda en Petro stem nou al vir baie jare nie heeltemal saam oor die saak nie en Ma Tilla gaan beslis nie betrokke raak by die aanhoudende debat nie.
Hulle oorweging was as hy dan nou nie wil plaas toe kom nie, sal hulle noodgedwonge na hom toe moet gaan.
Hulle het twee aande oorgebly en hy het die eerste oggend sy bankkaart vir Tilla gegee om ‘n paar dinge aan te vul soos sy goed dink.
Daai aand gaan staan hy en kyk verbaas na die wavrag sakkies vars groente en vrugte wat in sy kombuis rond staan. In die yskas is ‘n klomp rou vleis en hy kyk vraend na sy Ma.
”Wat nou van al die goed? Ek sal dit nie alles betyds kan gebruik nie.” vra hy verbaas.
”Ons sal dit vir jou doen.” sê sy ernstig en hy kyk skepties na alles. ”Ons sal alles vir jou versorg, wees net rustig. Niks sal weggegooi word nie.”
”Ek hoop so.” en hy kyk hoe Gerda vars slaai maak.
”Ontspan net, jy sal niks hoef weg te gooi nie.” verseker sy hom terwyl hy fronsend na alles kyk.
”Wat kan julle met soveel kos maak, dis net ek?”
”Ontspan. Tilla het ‘n plan.” verseker Gerda hom en hy skud sy kop.
”Sy het ons saamgebring om te kom werk.” hy frons en kyk verras na Petro. ”Verniet, ons is hier om verniet te kom werk in jou kombuis.” en dan besluit hy om homself oor te gee aan die vroumense wat hom ken.
”Ons gaan nou eet, daar is hoender en slaai. En die mooiste broodrolletjies wat ek nog ooit gesien het.” praat Gerda saam.
”Van daai sagte wit brood?” vra hy en sy knik. ”Dit verstop mens se maag.”
”Dan drink jy nie genoeg water nie.”
”Mmmm, dit verstop nog steeds jou maag.” sê hy terwyl sy die plastiek sakkie oopmaak en die mooi gebakte broodjies uithaal.
”Moenie so lelik van hulle praat nie, kyk hoe mooi is hulle.” en sy loer vinnig na Yster. ”Ons het vir jou nuwe mosterd gekoop, dis in die yskas.” hy is besig op sy foon en reageer nie. ”Hei.” en sy gooi hom met ‘n klein tamatietjie.
”Ag nee man, wat doen jy, dis kos.” vra hy en hulle kyk altwee hoe die tamatie op die vloer rol en dan bly lê.
”Ek sê ons het vir jou nuwe mosterd gekoop.”
”Ek het gehoor.”
”Nee, jy het nie. Wat doen jy?”
”Jy het gesê die nuwe mosterd wat julle gekoop het is in die yskas.”
”Jy moet dit in die yskas hou, die wat in die kas was het al gefermenteer. Ons het dit uitgegooi.”
”Hoekom, is dit nie nou die nuwe in ding nie?”
”Wat?”
”Fermentasie.”
”Hoe weet jy?”
”Ek is ‘n man van my tyd.”
”Ja, ek het gesien almal fermenteer nou skielik allerhande goed.” hy kyk nie op van sy foon af op nie en sy frons. ”Wat doen jy? Jy is erger as die seuns. Sit neer jou foon as mens met jou praat.”
”Ek kyk net wat julle alles spandeer het met my Bank kaart.” sê hy terwyl hy ernstig na sy foon kyk.
”Jisses, en julle het nie gespeel nie.”
”Moenie daai woord gebruik nie.”
”Watter woord?”
”Jisses, jy weet ek hou niks daarvan nie.” en Tilla knik.
”Tel net op daai tamatie, ons het vloer gewas.” sê sy en hy buk om dit op te tel.
”Mens mors nie met kos nie.” sê hy en gooi vir Gerda daarmee terug. Sy lag hard toe die tamatie in die slaaibak land. ”Wat leer jy jou kinders?” vra hy en sien hoe Tilla ook glimlag. ”Om bok kos te koop op ander mense se onkoste?”
”Jy het vir my jou kaart gegee om te koop wat ek gedink het nodig was.” gesels Tilla saam.
”En jy het gedink ek het al die groen blare nodig?” sê hy en kyk weer na al die pakkies.
”Ja, ek het.”
”As ek al daai blare opgeëet het gaan ek beslis blêr soos ‘n bok.” almal lag saam. ”Wat gaan julle daarmee doen?”
”Almal het gesonde groente nodig in hulle dieet.” antwoord Tilla en hy trek sy mond.
”Ek weet nie of dit nou heeltemal waar is nie. Wie in die lewe het soveel blare nodig?”
”Ja, natuurlik is dit waar. Ons gaan alles vir jou mooi verwerk en in jou vrieskas pak. Voor jy weet is dit weer winter en dan het jy alles wat jy nodig het.” antwoord Tilla en hy kyk verbaas na haar.
”Jy dink al aan die winter?” sy knik. ”Dit was netnou nog Nuwe jaar. Die somer lê nog voor.” sy
knik weer.
”Groente is op die oomblik vollop en goedkoop en dit was nie te duur nie. Daar by ons lyk die pryse heeltemal anders.”
”Die vervoer onkostes moet ingereken word.” sê Petro en Tilla frons.
”Die grootste tamatieplaas in die land is net daar om die draai en die tamaties in hierdie winkels is goedkoper as by die huis.” sê sy en kyk na die sakkie tamaties wat op die kas lê.
”Die winkels hier koop in groot maat aan.”
”Mmmm, dis wat almal aanhou verduidelik, maar ek weet nie so mooi nie.” sê Tilla en trek haar mond vies. ”Dis nie asof dit al is wat gekoop moet word nie. Die prys van koffie is buitensporig.
Tyd dat meer mense tee drink, kaffiëne is sleg vir almal.”
”Hoeveel van die Kloof het hulle al opgekoop?” vra Yster.
”Die meeste.” antwoord Gerda.
”Wat is hulle plan?”
”Niemand weet nie.” antwoord sy en hy kyk weer na al die pakkies.
”En wat van beurtkrag, op die oomblik is die krag drie keer ‘n dag af. Partykeer tot vir tien, twaalf ure, gaan dit werk?” vra Yster en kyk ernstig na sy Ma. ”Dis baie kos wat kan vrot word.”
”Dit sal nie vrot word nie, as jy alles toe hou sal dit reg wees. Hier is niemand wat die yskasdeur oop en toe gaan maak nie.” hy trek weer sy mond en Tilla glimlag. ”Ontspan, ek sal seker maak jy weet presies wat om met alles te doen as ek nie hier is nie en ons dink almal jy sal ‘n oulike bok wees.”
”Nee, nee, Tilla. ‘n Bok is ‘n bliksem, hoekom sal ons nou dink hy is oulik?” vra Petro ernstig en vir ‘n oomblik luister hy verbaas na haar.
”Lekker vol stories, is jy nie?” vra hy en sy kyk met groot spottende oë na hom. Sy trek haar mond skeef en almal glimlag saam voor hulle saam by die eetkamer tafel gaan sit.
”Hoe weet jy van fermentasie?” vra Petro en kyk vraend na hom.
”Daar was ‘n vrou in die Wes Rand Stasie wat almal probeer oortuig het hoe gesond dit is.”
”Het jy geproe?” hy skud sy kop. ”Hoekom nie?”
”Want dis sauerkrout.”
”Nee, dis nie net sauerkrout nie.” gesels Gerda saam.
”Wat is dit dan?”
”Seker was dit kimchi.”
”Wat is kimchi?” vra Tilla en frons.
”Dis wat hulle dit noem in Korea.”
”Wat?”
”Sauerkraut.”
”Ek dink hulle noem dit so in Roodepoort ook.” gesels Yster saam. ”Sulke rooi suur groente wat nie heeltemal reg ruik nie.”
”Dis nie veronderstel om sleg te ruik nie.” sê Gerda en frons.
”Hoekom sal dit sleg ruik?” vra Tilla.
”Omdat dit moet af gaan.” antwoord Petro en Tilla frons verbaas. ”Dis wat fermentsie is, die proses word net beheer met sout.”
”En dan eet mens dit?” hulle knik en sy trek haar oë. ”Hoe nuut is die gier nou?”
”Dis nie nuut nie, die Oosterse nasies doen dit al vir geslagte lank.”
”Mmmm, ek het regtig nie sulke suur groente in my lewe nodig nie.” verseker Yster hulle.
”Dan sal jy nie probleme hê met jou maag nie.” sê Petro en hap aan een van die mooi broodjies.
”Mens koop nie sulke fyn meel brood nie. Dit verstop al jou gate.” herhaal hy. ”Alles raas en blaas en fluit.” al drie lag vir hom en hy glimlag saam. ”Dis hoorbaar ‘n slegte idee.”
”Dit sal lekker wees saam met botter en konfyt.” verskil Petro van hom en kyk weer na die mooi bolletjies. ”Baie botter.”
”Het daar tamatiekonfyt saamgekom?” vra hy en kyk vir Tilla wat knik.
”Soveel suiker is ook nie gesond nie.” praat Gerda en glimlag toe Petro ‘n broodjie vat en ‘n klomp slaaiblare opsit voor sy weer hap.
”Nou is dit so gesond soos dit kan wees.” praat sy terwyl sy kou. ”Het ons nie kaas gekoop nie?” vra sy en gaan kyk wat in die yskas is.
”Sauerkraut soos die Duitsers dit maak?” vra Tilla en kyk vraend na Gerda wat knik. ”Ek weet
daarvan, dit moet regtig nie sleg ruik nie.”
”Jy dit al geëet?” vra Yster en die ouer vrou knik.
”Ja, ons het almal. Pa het daarvan gehou.”
”Nee, hy het nie.” verskil Gerda van haar.
”Ja, hy het. Ek het dit altyd vir hom gemaak met kerriepoeier.”
”Die kool wat jy altyd so fyn gesny het?” vra Petro wat weer kom sit. Tilla knik en sy maak die
pakkie kaas oop.
”Ek kan dit onthou. Jy het altyd heeltemal te veel sout oorgegooi. Die slim mense van die
Hartstigting sal jou aankla van allerhande misdrywe en kinder mishandeling.”
”En asyn.” onthou Yster ook.
”Nee, daar kom nie asyn oor nie. Dit piekel in die sout.”
”Dis wat Pa dit genoem het, piekel kool.” onthou Gerda ook en Tilla knik.
”En nou is dit in die mode?” vra sy verras en Petro knik. ”Hoekom word dit nou fermentasie
genoem, dit was nog altyd piekel kool?”
”Die Amerikaners noem dit fermentation. Piekels is iets anders, dis meer Engels.”
”Wat is die verskil?” wil Yster weet.
”Asyn, fermentasie gebruik nie asyn nie.” hy trek sy mond en knik effens.
”Hoekom is dit dan so suur?”
”Omdat dit fermenteer.”
”Daar is niks nuut onder die son nie. Partykeer het dit net ‘n nuwe baadjie aan.” en Tilla kyk vraend na Gerda. ”Hoekom nou kimchi? Dit klink mos maar volksvreemd.”
”Mense betaal baie vir sulke volksvreemde kos.” praat Petro saam en smeer nog botter op ‘n sagte wit broodjie.
”Dis dieselfde idee, net ‘n variasie op die tema. Hulle gebruik nie net kool nie, dis allerhande
groente wat hulle insit.” gesels Gerda verder saam.
”Sit hulle nie allerhande vis goed ook daarin nie?” vra Petro en kyk vir Gerda terwyl sy aan die
brood kou.
”Ja, hulle doen, saam met vis en soja sous.” terwyl sy praat haal Yster iets uit sy mond en frons.
”Is dit ‘n klippie?” vra hy en kyk ernstig na sy vinger.
”Hoekom sal dit nou ‘n klippie wees?” vra Petro en frons terwyl hy dit op die kant van sy bord
afvee.
”Omdat hy die tamatie wat geval het terug in die bak ingegooi het.” antwoord Gerda.
”Maar ek dog julle het die vloer gewas.” maak hy beswaar.
”Dis skoon vuilgoed, ons het die vloer gewas.” verseker Tilla hom en hy skud sy kop.
”Ek weet nie hoe julle twee kan kinders groot maak nie, daar moet ‘n wet wees teen sulke
verwaarlosing.” meen Yster wat nou ook ‘n broodrolletjie sny en smeer.
”Dit is jou eie skuld.”
”Nee, nee, nee. Jy het my eerste met kos gegooi.”
”Omdat jy nie luister as mens praat nie.”
”Ek het geluister.”
Die volgende aand het sy woonstel na gaar uie en knoffel geruik maar alles was verwerk en daar was ‘n berg voorbereide kos in sy vrieskas. Al die bakkies sop en sakkies is noukeurig gemerk met die inhoud en opwarm instruksies. Hy was heel beindruk en het gehoop dit werk so goed soos hulle dit bedoel het.
”Sien jy, ons het saamgekom om verniet te kom werk.” sê Petro en lyk heeltemal tevrede met alles wat weggepak is. ”Sy het sop gemaak dat dit by ons ore uitgekom het. Jy gaan dit nooit weer eet nie.”
”Ons sal maar sien.”
Tilla het ook die verskeidenheid bottels en sakke met allerhande tuisgemaakte lekkernye wat sy saam gebring het in die kaste gepak met voorskrifte om die leë bottels te bêre en ordentlik te versorg.
”Jy sal seker darem eendag weer plaas toe kom voor ek ook dood gaan, en dan bring jy dit alles heel en skoon saam. Moet nou nie weer al die deksels weg gooi nie.” praat Tilla met hom toe hy na alles kyk wat hulle weggepak het. Hy het stil geknik en sy het geglimlag. ”Ek is ernstig. Jy gooi nie weer al my deksels weg nie.”
”Ek het gehoor, ek sal jou deksels hou.”
”Hoekom gooi jy die deksels weg?” vra Petro en frons.
”Omdat van hulle swart gemuf het.”
”As dit ordentlik skoon is kan jy dit net terug draai op die bottel dan is dit nie ‘n probleem nie.” stel Gerda voor en hy glimlag skeef.
”Jy het ‘n skottelgoedwasser, jy hoef dit nie eers self te doen nie.” praat Petro saam.
”Nou hoekom het ek nie self daaraan gedink nie?” spot hy en hulle skud hulle koppe ongelowig.
”Jy kan internasionale skelms vang maar nie bottels se deksels skoon bêre nie. Hoe werk dit nou?”wil Petro weet en hulle kyk al drie ongelowig na hom.
”Dis omdat hy eintlik ‘n bok is.” en hulle lag almal saam.
”Dankie vir julle harde werk. Ek hoop dit werk.” sê hy dankbaar.
”Ons is gaaf en jy mag dit nooit vergeet nie.” merk Petro op en hy glimlag vir haar.
”Wat eet ons vanaand?” wil hy weet toe hy ingelig is van alles wat orals weggepak en versorg is.
”Jy gaan ons uitvat vir ete.” kondig Petro aan en hy kyk verras na haar.
”Ek gaan?” en twee koppe knik oortuigend. ”Maar ek moes nog gister vir daai wa vrag kos betaal en nou wil julle ander mense se kos gaan eet?”
”Tilla is so bang jy gaan dood van honger in die koue Hoëveld winter.” hy kyk verras na sy Ma wat net goedig glimlag.
”Dis nie my eerste winter hier nie.” herinner hy haar en Gerda lag.
”Ons het haar gesê, maar sy is bang jy eet nie gesond genoeg nie.”
”En jy gaan nou in Hillbrow werk. Ek hou nie vreeslik baie daarvan nie.” sê Tilla eerlik en Yster
kyk verbaas na haar. ”Ek luister nuus, ek weet daar gaan allerhande goed aan daar.”
”Dis my werk, Ma, en ek eet genoeg en gesond genoeg. Jy hoef nie daaroor te bekommer nie.”
”Ek weet, ek weet. Maar nogtans. Hoeveel slaap jy?” hy glimlag.
”Ek slaap, Ma.”
”Ek is so bly ons kon dit vir jou doen, dit behoort maklik genoeg te wees om die etes net te ontdooi en warm te maak as dit later nodig is. Alles waarvan jy hou is daar. Gebruik jou mikrogolf, dis sal die maklikste wees. Ons het nie te veel sout opgesit nie, gooi maar op soos jy daarvan hou.” hy knik dankbaar.
”Dankie, Ma, maar dit was nie regtig nodig nie, hier is orals winkels.”
”Wegneem etes gebruik te veel slegte olie, en mens weet nie hoeveel varkworse hulle daarin braai nie. Dis nie gesond vir jou nie.” hy glimlag en knik.
”Goed, Ma. Baie dankie vir al julle moeite. Ek sal dit beslis gebruik.”
”Jy het nou net ‘n groot bottel ryp kimchi nodig vir jou maag, dan het jy alles wat goed en gesond is vir jou.” spot Petro en hy glimlag. ”En nou gaan jy ons beslis uitvat vir ete omdat jy net so gaaf is soos ons.” en hy oorweeg dit en glimlag dan.
”Wat wil julle eet?”
”Is daar iets wat jy voorstel?” vra Tilla. ”Ons hoef nie te ver te ry nie.” en hy knik.
”Net hier anderkant is ‘n plek wat lekker vis maak.” stel hy voor en hulle kyk verbaas na hom.
”Vis?” vra sy susters saam en hy glimlag.
”Ja, gaan julle saam?”
”Jy eet vis uit vrye keuse?” vra Petro weer en hy knik.
”Okey, dit klink soos ‘n plan.” willig Gerda in en al drie die vrouens lyk tevrede.
”Ry ons in my bakkie?” vra Yster, ”En hulle verkoop nie wyn nie.” waarsku hy en Tilla glimlag weer toe Petro verbaas na hom kyk.
”Vir wat nie?” vra sy en kyk fronsend na hom. ”Mens drink wyn saam met vis.”
”Hulle het nie ‘n dranklisensie nie.”
”Hoekom nie?” vra Petro met ‘n groot frons. ”Hulle maak almal geld met ‘n kroeg. Hoe smarter hoe beter. Dronk mense betaal maklik vir hulle plesiertjies.”
”Almal is nie altyd dronk nie.” verskil Gerda van haar.
”Dit maak nie saak nie, ons gaan saam.” sê Tilla voor dit weer in ‘n filosofiese argument ontaard.
”Mens kan vis eet sonder wyn.” meen Gerda.
”Nee, dit is simpel om nie wyn te hê saam met vis nie.” verskil Petro.
”Bestel dan iets anders.” stel Yster voor en sy knik.
”Net nie slaai nie, ons het gisteraand genoeg slaaiblare geëet, ek wil chips hê. Netnou word ek ook ‘n bok.” en hy glimlag saam. ”Maak hulle chips of is dit een van daai fancy plekke wat net ‘n paar mikro slaaiblare op so groot bord bedien met een druppel heuning en vars borrie slaaisous?”
”Daar is chips.” verseker hy haar en sy lyk tevrede.
”En waarheen gaan jy nou?” vra Petro toe hy kamer toe stap.
”Ek trek net gou my uniform uit.”
”O ja, asseblief tog. Ons gaan nie saam as jy so lyk nie.” almal glimlag toe hy nie meer daar is nie.
”Jy kan nie nou stort nie, ons is honger.” roep Petro agter hom aan en toe hy later by hulle aansluit lyk hy gemaklik en koel in sy denim en ‘n vars hemp. Tilla kyk goedkeurend na hom en glimlag.
”Moeilike dag?”
”Nee wat, ek maak reg vir die nuwe span. Net baie papier werk om klaar te maak in Roodepoort.”
”Dit lyk of jy vakansie gehou het.” merk Petro op en hy frons. ”Jy is getan.” en hy glimlag vir haar.
”Seker omdat daar ‘n see is in Durban en Kaapstad.”
”Dis nie fair nie, jy lyk altyd goed. Al dra jy daai lelike blou uniform.”
”Regverdig.” sê Gerda.
”Huh?”
”Dis nie regverdig nie.” help die taal onderwyseres reg.
”Wie kom saam?” vra Yster wat sy beursie en sy selfoon in sy sak druk.
By Vonna’s Place word hulle vriendelik binne genooi en vir ‘n oomblik kyk Yvonne ondersoekend na hom, dan glimlag sy vriendelik en begelei hulle na ‘n tafel waar hulle gaan sit.
”Hoekom kyk sy so vir jou?” vra Gerda toe sy wegstap.
”Wie?” vra hy en sy wys na Yvonne wat nie meer vir hulle kyk nie. ”Niemand kyk nie.”
”Mmmm, ek het ook gesien.” sê Petro en kyk na die vrou wat oral gesels en hoor of alles reg is.
”Niemand kyk nie.” verskil hy weer van hulle.
”Ja, sy doen.” stem Tilla saam.
”Ek was al hier, sy erken my seker.”
”Jy was al hier?” vra Gerda verbaas en hy knik.
”Ja, hulle vis is lekker.” ‘n kelner bring spyskaarte tafel toe en nou kyk almal na die verskillende disse wat aangebied word.
”Hoe proe hulle hoender kerrie?” vra Petro terwyl sy na die spyskaart kyk.
”Ek weet nie.” en sy kyk verbaas na hom.
”As ek reg onthou eet jy altyd kerrie as dit op die spyskaart is.” sy kyk ondersoekend na hom en Tilla knik.
”Nee, ek doen nie.” verskil hy van haar.
”Sy is reg, jy doen.” verseker Tilla hom en hy skud sy kop.
”Vanaand wil ek vis hê.” verseker hy haar en sy knik ook.
”Goeie naand. Is julle reg om te bestel?” vra Vonna toe sy by hulle kom groet. Sy kyk weer
ondersoekend na Yster en glimlag groot. ”Wat gaan julle drink? Ek het ongelukkig nog nie ‘n drank lisensie nie, maar wie weet, miskien kry ek die jaar een. My aansoek is hopelik iewers op iemand se lessenaar.” hulle bestel en sy stap kombuis toe.
”Wat gaan jy eerste doen met jou nuwe span?” vra Gerda en kyk vol belangstelling na hom.
”Ek gaan hulle oplei.”
”Oplei? Maar is hulle nie klaar opgelei nie?”
”Nie vir wat hulle elke dag saam met my sal moet doen nie.”
”As jy nie self gaan vertel nie gaan ek aanhou uitvra tot ons alles weet.” waarsku sy en hy kyk na
haar en glimlag.
”Ek moet seker maak hulle ken my goed genoeg om saam in die donker te kan operate.”
”Hoekom in die donker?”
”Omdat oortreders graag in die donker operate, en slaap as ander mense werk.”
”En hierdie opleiding, wat behels dit alles?”
”Ek doen heelwat informasie oordrag oor die gebied waar ons sal werk en dan vir ‘n week baie fisiese oefening en opleiding.”
”Fisiese oefening! Vir wat?” vra Petro en frons.
”Omdat ons moet saam kan werk as ‘n span. Hulle moet weet wat ek verwag en hoe ek dit gedoen wil hê.”
”Hoekom?”
”Omdat dit gevaarlik is as almal nie verstaan wat ek wil hê nie en misdadigers mense dood skiet. Ek is verantwoordelik vir almal as ons uitgaan.”
”Maak almal dit?”
”Gewoonlik maak hulle dit.”
”Wat van die grotes en die vettes?”
”Hulle word nie gekeur nie.”
”Sal ‘n vrou dit kan maak?”
”Ek gaan nie uitvind nie.”
”Hoekom nie?”
”Omdat daar nooit een deel gaan wees van my eenheid nie.”
Nadat hulle geëet het en hy met sy bankkaart betaal kyk Vonna fronsend na sy naam.
”Is iets verkeerd?” vra hy en sy kyk verras na hom.
”Nee, glad nie, ek is jammer. Ek het gedink ek herken jou, dis al.” hy knik en sy gee vir hom sy
kaartjie terug. ”Was julle al hier?” vra sy.
”Ek was al.” antwoord hy en sy glimlag sag.
”Dan hoop ek om julle almal gou weer te sien. Baie dankie vir julle ondersteuning.” groet sy toe sy weer wegstap.
”Saam met wie was jy?” vra Tilla en kyk ondersoekend na hom.
”Iemand wat my kom wys het waar om vis te eet.”
”Wie?” wil Petro weet.
”Julle ken haar nie.”
”Dis ‘n haar?!” vra Petro verbaas en hy antwoord nie. ”Ons moet weet want jy het laas saam met Amanda gaan uiteet.”
”Nee, ek het nie.” verskil hy van haar.
”Ja, natuurlik het jy.”
”Nee, man. Ons was al almal saam uit vir Tilla se verjaarsdag.” sê Gerda en hy knik.
”Dit tel nie, dit was saam met ons.” Gerda kyk ook nou vraend na hom.
”Het jy smart gelyk?” wil sy weet en hy kyk heel verveeld na haar.
”Ek lyk altyd smart.” antwoord hy en almal lag weer saam vir hom.
”Maar hoekom het sy jou nie herken nie? Vroumense onthou jou gewoonlik.” praat Petro en kyk na Vonna wat nou by ‘n ander tafel staan en gesels.
”Kom ons ry.” stel hy voor en hulle stap saam uit die restaurant en Tilla sien hoe Vonna weer
fronsend na hom kyk.
”Jy gaan ons nie vertel nie, gaan jy?” vra Petro nuuskierig.
”Nee, ek gaan nie.” antwoord hy en kyk met blink oë na haar.
”Jy moet ons vertel.” kerm sy en Tilla glimlag. ”Tilla, sê vir hom om ons te vertel.” kla sy en kyk
met groot oë na haar Ma.
”Dankie, my kind. Dit was baie lekker.” is al wat die ouer vrou sê en Petro frons ongelukkig.
”Ag Ma. Hoekom mag ons nie weet nie?” wil sy weet en hy kyk vir haar in die truspieëltjie.
”Omdat dit nie nodig is nie, nuuskierige agie. Jy is nie meer drie nie.” antwoord hy en sy kyk verras na hom.
”Natuurlik is dit nodig. Wie was dit?”
”Los hom nou, hy sal ons vertel as hy reg is.” sê Gerda en Yster glimlag weer. Hy geniet die
geselskap. Hulle was jare laas so saam, sonder mans en kinders en hy geniet al die aandag wat hy gewoonlik moet deel.
Ek moet weer plaas toe gaan.
Ek het lanklaas met almal gesels.
Miskien oor so paar maande ‘n lang naweek daarvan maak.
Natuurlik is sy susters ook ingelig oor die duur horlosie droom want hoe sal dit dan anders werk?
Hulle het saamgekom om seker te maak hy verstaan wat Tilla gedroom het, vir geen ander rede nie.
Maak nie saak wat hulle hom vertel nie.
Niemand het saamgekom om verniet te kom werk nie.
Hy was verbaas dat hulle altwee saamgekom het want sy swaers is nou veronderstel om self die klomp opgeskote seuns te versorg.
In die nuwe geslag is daar nog nie ‘n dogtertjie gebore nie en heimlik wag Tilla vir een, iemand wat haar gawe moet aandra in die familie en die seuns speel liewer rugby en krieket en skiet bokke dood as om te dink aan enige soort geestelike ontwaking of ontwikkeling.
En dit lyk nie vir hom of een van sy twee susters hulle vreeslik bekommer oor wat by die huis
gebeur nie.
”Hulle kan vleis braai en gaan slap chips koop as daar niks anders is waaraan hulle kan dink vir ete nie.” word hy verduidelik toe hy daarna vra. ”Of pap. Hulle weet hoe om dit gaar te maak vir ander mense, so hulle kan dit seker mos vir hulleself ook doen.”
”Dis net twee dae! Hulle kan seker vir hulle self sorg vir twee dae. Ons is nie land uit nie.”
”Regtig, niemand sal doodgaan van die honger nie, hulle weet hoe om vuur te maak as daar
beurtkrag is.” hy kyk verbaas na Tilla wat net glimlag sonder om iets te sê. Sy verstaan die
skuldgevoel omdat hulle alleen by hom kom kuier het.
In die Van Jaarsveld familie het dit nie altyd so gewerk nie.
Baie dinge het verander vandat sy Pa dood is.

Published inBoek 2 HoofstukkeYster-Boek 2