Skip to content

Yster Boek 2 Opleiding – Hoofstuk 45

Die volgende oggend toe Yster in die groot kantoor instap hoor hy iemand in sy kantoor en hy
frons.
Dis nog vroeg, wie sal nou al hier wees?
Hy gaan staan verras in die deur toe hy sien hoe Aryna aan die staalkabinet se deur vroetel en dan vinnig aan die kas skop.
”Goeiemore Kaptein Storm.” haar hande ruk soos sy skrik en dan draai sy stadig om. ”Iets waarmee ek dalk kan help?”
”Waar is my Ma se dinosaur?” vra sy, haar oë blink en haar hare is deurmekaar.
”Hoekom sal ek weet waar jou Ma se dinosaur is?” vra hy geduldig.
”Omdat jy hom hier toegesluit het.” en sy vat aan die kas.
”Ek verstaan nie, jou Ma het ‘n dinosaur wat ek in my staalkas toegesluit hou?” en sy knik.
”Hier in Jeppe?” en sy knik weer.
”Maar is dit nie ver van jou Ma se huis af nie?”
”Ag, man. Gaan jy nou eers simpel wees?” en sy trek haar mond vies.
”Ek is seker jou Ma se dinosaur is nie in my kas nie.”
”Waar is hy dan?”
”Ek het nie ‘n idee nie.”
”Kan ek kyk?” hy knik en gee vir haar sy sleutel aan.
Sy vat dit vinnig en sluit dadelik die deur oop.
Met die oop maak slag val die pers dinosaur uit en sy tel dit vinnig van die vloer af op.
”Hierdie een, dis my Ma s’n.” sê sy beskuldigend.
”Dit kan nie jou Ma s’n wees nie.” verskil hy dadelik van haar.
”Natuurlik is dit, wie s’n is dit anders?”
”Myne.” en sy kyk met groot oë na hom.
”Joune?” en sy kyk vies na hom toe hy knik.
”Hoekom sal jy ‘n pers dinosaur in jou kas hê?” kalm stap hy vorentoe en vat die dinosaur uit haar hande en sy kyk verbaas na hom.
”Wat doen jy, dis my Ma s’n.” en hy gaan sit langbeen op die kant van sy lessenaar met die
speelding op sy skoot en kyk uitdagend na haar.
”Verlede jaar in Julie en Augustus het ek saam met ‘n span van hierdie Stasie ‘n wapen ondersoek gedoen nie ver hier vandaan nie.” en sy kyk dadelik agterdogtig na hom.
”Dalk het jy eers gister daarvan gehoor want my naam is nie tydens die interne ondersoek genoem nie.” en sy maak haar mond oop om weer te praat maar hy lig sy vinger en sy bly stil.
”Daar was hierdie twee offisiere wat amper in die tronk beland het omdat hulle die kriminele
bygestaan het met die onwettige vervoer en bewaring van wapens en ammunisie in ‘n staatspakhuis.” weer maak sy haar mond oop en weer lig hy sy vinger.
”Hulle het sowaar beurtkrag gebruik om die ondersoek te dwarsboom.” weer wil sy praat en hy skud sy kop.
”Ek is nog nie klaar nie.” en sy kyk vies vir hom.
”Ek het as senior beampte van die ondersoek die verantwoordelikheid aanvaar om hulle altwee van jare se aanhouding te red.” en nou kyk sy vraend na hom.
”Maar sal jy nou glo, nog net een van die offisiere het al kom dankie sê.
”Ek wag nog vir die ander een.”
”Wanneer het hy kom dankie sê?” vra sy verras.
”So vir tyd en wyl ek moet wag hou ek die speelding in veilige bewaring tot die ander offisier ook besluit om te kom dankie sê.” en hy kyk na die speelding op sy skoot voor hy weer na haar kyk.
”Dink jy nie dis ‘n redelike plan nie?
”Hulle kon altwee vir jare in aanhouding gebly het sonder my hulp.” en sy trek haar mond net effens voor sy vies uit sy kantoor stap.
”Ons het nie jou ondersoek gedwarsboom nie jou mislike blêrrie mansmens. Vir wat moet jy my altyd bekruip?” hoor hy haar nog baklei toe sy uitstap.
Hy glimlag groot toe hy een van die bokse op die grond op tel en op sy lessenaar neersit. Hy sluit weer die kas toe nadat hy die inhoud van die boks in die kas gepak het.
”Wat maak jy, swaer?” vra Leon van die deur af toe hy die boks mooi toegeplak weg skuif.
”Yes, Leon. Hoe lyk’it?” groet hy met ‘n groot glimlag.
”Ek gaan aanvaar jy het al met Aryna Storm gesels vanoggend.” en hy knik instemmend.
”Ek het.”
”En?”
”Gaan jy nog saam stad toe?” vra hy en Leon knik. ”Ek moet by die local Hillbrow en Johannesburg Stasies voorgestel word, kan jy dit doen?” en hy knik weer.
”Ek kan dit doen.” en Yster lyk gelukkig. ”Wat’s daarin?” vra hy en kyk na die boks.
”Daar is ook ‘n afspraak by die Hillbrow Kliniek maar ek dink dit gaan beter wees om eers deur die stad te ry en na van die persele te gaan kyk voor ons soontoe gaan.”
”En jy het nou ‘n plan?” en Yster kyk vraend na hom. ”Met Aryna, jy het nou ‘n plan?” en Yster
glimlag groot.
”Ek het altyd ‘n plan, swaer.” en hy knik stadig.
”Mooi man. Ek gaan net gou op, kom haal die ammunisie as jy klaar is.” en toe hy uitstap vat Yster die boks na sy bakkie en sien hoe die kanidate inkom vir koffie. Hy stap nader en gaan drink saam met hulle koffie voor hy na Leon se kantoor stap.

”Yster.” roep ‘n stem oor die radio in sy bakkie.
”Yes.”
”Toilet break, please man.”
”Volgende garage?”
”Ja, dit sal oraait wees.”
Dis Vrydagoggend en dis al amper elf uur.
Die kanidate het saam in ‘n ry deur die stad gery en Yster het al die persele aan hulle uitgewys wat gister tydens die informasie sessie bespreek is.
Hier by die Kliniek klim almal af waar daar hopelik ‘n mediese personeellid vir hulle wag by
ontvangs.
”Visser.” roep Yster vir Willem nader.
”Yes.”
”Ek moet by die local Stasies gaan draai en amptelik voorgestel word, sal jy seker maak die span kom by die skietbaan uit?”
”Ek sal.”
”En maak seker Beyers neem nie die Kliniek oor nie.” en Willem glimlag.
”Ek sal vir Storm sê, sy weet hoe om hom size te maak.” nou glimlag Yster saam.
”Ek sal nie lank wees nie.”
”Gaan Kolonel Buys saam met jou?”
”Ja, hy gaan my voorstel.”
”Dan sien ons jou by die skietbaan?”
”Yes, ek sien julle daar.” en Yster stap terug na sy bakkie en hy en Leon vertrek na die Hillbrow
Stasie.
Die span stap saam na die ingang van die Kliniek waar daar sowaar by ontvangs vir hulle gewag word.
”Wat is verkeerd?” vra Leon omdat Yster niks sê nie.
”Het jy gekyk hoe lyk die stad?” vra hy sonder veel emosie.
”Ja, ek het gesien.”
”Het jy gesien hoe vervalle alles is, dit lyk nie of daar nog enige iets skoongemaak word nie.”
”Ek het gesien.”
”Dit lyk of rommel oornag aan die brand gesteek word.” en Leon knik.
”Dis hoe hulle rotte voorkom.”
”En nou verwag jy en Ronel Basson van my om vir Aryna Storm in my span in te sluit.”
”Dis haar werk, swaer.”
”Nee, dit is nie. Daar is plekke waar niemand veilig is nie.”
”Dit lyk oral so.”
”Nee, Leon! Dit doen nie. Ek kan jou verseker Ronel Basson sal nie hier uitklim nie.”
”Sy het opdrag ontvang.”
”Fok dit! Ek doen dit nie.” verseker hy die ouer man.
”Wat gaan jy doen?” vra Leon effens bekommerd.
”Baie seker maak sy maak nie die opleiding klaar nie.”
”Wat bedoel jy?”
”Ek bedoel sy gaan nie my span maak nie.”
”Dit gaan nie so maklik wees nie, sy gee nie sommer op wanneer dit by training kom nie.” en hy reageer glad nie. ”Moet nou nie onnosel wees nie. Dit word van jou verwag.”
”Jy het self vir my gesê jy sal nooit een van jou dogters toe laat om hier te werk nie.”
”Nee, ek sal nie.”
”Maar julle verwag van haar om dit te doen.” dit is stil in die bakkie tot hy voor die Hillbrow Stasie stil hou.
”Draai net daar in.” wys Leon vir hom waar die amptelike parkering is.
”Wat weet jy van die Bevelvoerder?” vra hy toe hulle saam na die gebou kyk.
”Sy naam is Stanley en hy is nou so paar jaar hier, nie te lank nie.”
”Ek weet wie hy is, ek het al met hom gepraat.” en Leon kyk vraend na hom.
”Ek wil weet of jy al stories gehoor het oor hom.”
”Niks opspraakwekkend nie.” antwoord Leon en Yster knik.
”Ons moet ‘n pakkie by hom kry voor ons ry.”
”Jisses, daai Beyers hou nie op praat nie.” gesels Henk nadat hulle die Kliniek verlaat het.
”Hy was reg, hulle sit rot gif in die kak.” antwoord Willem.
”En die slimmme dokter meen hulle grootste oorweging is om hulle voorvader geeste te sien?” vra Henk ongelowig.
”Ag kak, man.
”Hulle rook die fokken goed om hoog te vlieg.
”Niks anders nie, hulle is verslaaf aan die kak.” praat Willem saam.
”Dit het niks met hulle geloof te doen nie.
”As hy dalk per ongeluk iemand raak vlieg wat sense praat, miskien, maar dis nie vir hulle iets
anders as net ‘n fix nie.”
”Dink jy hy glo hulle regtig?” vra Henk en frons.
”Nee, ek dink net iemand het vir hom gelieg en toe dink hy wat hy sien is die lig.
”Miskien was sy navorsing nie heeltemal so wetenskaplik soos hy sou wou dink nie.” en Willem kyk skeef na Aryna.
”En nou sê die man van die ARV medisyne het LSD properties?” hou Henk aan praat en Willem knik. ”Maar daai goed word al vir jare gebruik, hoekom verander hulle nie net die resep nie?”
”Storm?” vra Willem en kyk ondersoekend na haar.
”Mmmm.”
”Stem jy saam?” en sy knik net. ”Jy is stil, is alles reg?” vra Willem ernstig.
”Mmm, alles is reg.” antwoord sy. ”Waar is hy?”
”Yster?” en sy knik.
”Leon het hom gou by die local Stasies amptelik gaan voorstel.” en sy knik net effens.
”Hy het seker al die nyaope stories gehoor.” en sy knik net weer.
”Wat nou weer?” vra Henk en kyk ook nou ernstig na haar.
”Niks nie.” verseker sy hulle en nie een van hulle glo haar nie.
”Net so lank jy nie weer die dak slaan nie.” waarsku Henk en sy frons.
”Wanneer het ek die dak geslaan?”
”Maandagmiddag toe ons huis toe gegaan het.”
”Ek het?”
”Ja, jy het.”
”Nee, ek het nie.”
”Ja jy het, toe jy uitgevind het hy was Eben Joubert.”
”O ja, ek het nogal. Sorrie.”
”Wat gaan aan?” vra Henk bietjie meer besorg.
”Hy wil nie die dinosaur terug gee nie.” erken sy en Henk frons.
”Hoekom nie?” en sy lig haar skouers. ”Het jy hom gevra?” en sy knik.
”Het ek julle ooit vertel ek het Eben Joubert skietbaan toe gevat vir wapen opleiding en veiligheid verlede jaar?” vra sy en Willem lag verras.
”Ja, jy het. Ek kan onthou, Leon Buys het jou gehelp.”
”En nou gaan ons na dieselfde skietbaan toe en ek weet nie wat hy gaan doen as hy alles onthou nie.”
”Hoekom sal hy iets doen?” vra Willem en frons.
”Want hy wil nie die dinosaur terug gee nie.” en hy kyk verras na haar.
”Ek is seker hy sal onthou, maar wat het dit met die dinosaur te doen?”
”Ek weet nog nie, maar ek voel skoon naar op my maag.”
”Hy sal niks doen nie, man.” verseker Henk haar.
”Is jy seker?” vra sy benoud en hy knik.
”Het julle nou al met mekaar gepraat?” vra Willem en sy knik.
”Ek het vanoggend probeer maar dit het nie gewerk nie.”
”Omdat jy toe weer harde gat was?” vra Henk en sy kyk waarskuwend na hom.
”Gaan jy my nou eers weer sleg sê en met my baklei?”
”Ek baklei nie, ek vra net. Wat het jy vir hom gesê?”
”Dat dit my Ma se speelding is en dat ek dit wil terug hê.”
”Dis al?” en sy knik.
”Hoekom probeer jy nie gaaf wees nie?” stel Willem voor.
”Hoekom moet ek gaaf wees, dis my Ma se dinosaur?”
”Try net, hy help jou om die kat te voer.” stem Henk saam en sy onthou.
”Want ek dink gaaf gaan beter werk met hom.” probeer Willem verder raad gee en sy sug hard.
”As jy stuck up en vol kak wil wees kan niemand jou help nie.” sê Henk ongevoelig.
”Moet jy altyd eers ‘n bees wees voor jy kan luister?” vra sy ongelukkig.
”Gaan jy nou sensitief wees?”
”Nee, Henk. Ek gaan nie sensitief wees nie. Maar wat moet ek vir hom sê, gee asseblief die
dinosaur terug?”
”Is dit nie wat jy gesê het nie?” en sy skud weer haar kop.
”Wat wil jy vir hom sê?” vra Willem voor Henk weer praat.
”Hy wil hê ek moet dankie sê omdat hy vir my en Christo uit die tronk gehou het.”
”Sê dan vir hom dankie.”
”Ek sal later.”
”Hoekom eers later?” wil Henk weet.
”Want ek dink nie ek gaan sy span maak nie.”
”Hoekom nie?”
”Omdat hy elke keer so sê.”
”Het hy dit vir jou gesê?” vra Willem en frons toe sy knik.
”Al ‘n paar keer.”
”Oh well, dit was darem nie voor almal soos Beyers nie.” en sy skud haar kop.
”Wil jy jou aansoek terug trek?” vra Henk na ‘n rukkie.
”Ons is al half pad met opleiding.” antwoord sy.
”Dis nie die vraag nie, wil jy jou aansoek terug trek?”
”Ek het daaraan gedink.”
”Hoekom?”
”Dit sal vir almal makliker wees.”
”Dis ‘n kak rede.”
”Hoe kan jy so sê?”
”Omdat jy dit net mag doen as jy nie meer wil nie.” en sy praat nie. ”Wil jy nie meer nie?” en sy
skud haar kop.
”Ek sal daarvan hou om sy opleiding deur te sien, hy gee baie praktiese informasie oor die wet en die stad. Hy ken sy storie.”
”Ek dink ook so.” stem Willem saam.
”So, dan sien jy sy opleiding deur.” sê Henk en kyk vraend na haar. ”Wat is jou probleem?”
”Maar hy gaan my nie in sluit nie.”
”So what? Dis nou te laat om iemand anders ‘n kans te gee. Nou sien jy mos die ding deur omdat jy wil.”
”En die fisiese opleiding?”
”Ons sal jou help, ek het mos gesê.”
”Hoekom help jy jouself nie, ek dink nie hy sal onredelik wees as jy net mooi met hom gaan praat nie?” stel Willem voor maar sy antwoord nie.
”Maar ek dink nie jy moet probeer om met hom te maak soos jy gister met Beyers gemaak het nie.”
”Hoekom nie?”
”Omdat hy ‘n ordentlike ou is wat jou sal beskerm as dit nodig is. Hy het vir ons gesê jy moet ten alle tye soos ‘n dame hanteer word.”
”Hy het?” en Willem knik. ”Wanneer?”
”Na die storie nou die oggend met Lourens en Lood.” en sy kyk verras na hulle.
”Kan jy glo hy dink jy is ‘n dame?” spot Henk met haar. ”Ek het myself gedra en nie vir hom gesê jy weet nie eers wat dit beteken nie.” en sy glimlag effens.
Later toe sy by die skietbaan indraai staan Yster se bakkie reeds daar geparkeer en Willem kyk verbaas na haar toe sy saggies kreun.
”En nou?” vra hy en sy sluk swaar. ”Dis nie so erg nie, man. Ontspan net.”
”Dit is so erg, hy is een van SAPS se beter skutters.”
”Jy het nie geweet nie.” probeer Henk troos.
”Jy is ook een van die beter skutters hier. Skop almal se gatte, wat anders gaan jy doen?” stel
Willem voor en sy knik.
”En wat van beweging?” vra sy baie onseker.
”Konsentreer net.” stel Henk voor.
”Ek konsentreer altyd.”
”Relax net. Jy het dit al honderd keer gedoen. Dis net nog een keer.” en sy klim uit en haal weer diep asem toe Henk langs haar kom staan.
”Ag fok, Storm. Kom! Hy gaan niks doen nie. Jy hoef nie so vol dramas te wees nie.”
”Ek is nie vol dramas nie.” verskil sy van hom.
”Jy gaan aan soos ‘n dramabus. Ons gaan nou skiet en jy gaan vir Neil Beyers presies wys waar daai ander ou die wortels begrawe het.”
”Watter ou?”
”Ek kan nie onthou nie. Die ou wat altyd die wortels begrawe iewers in ‘n land of iets.”
”Daantjie?” vra sy en Henk knik.
”Nee man, dis Dawid.” sê Willem. ”Daantjie is in die kallerhok.”
”Wat maak hy daar?”
”Nee, dis Oom Kallie?”
”Huh?” vra Henk en frons.
”Kom, Yster wag vir ons.” en saam stap die groep by die skietbaan in.

Published inBoek 2 HoofstukkeYster-Boek 2