Skip to content

Yster Boek 2 Opleiding – Hoofstuk 47

”So, Kolonel.” begin Henk en kyk na Leon wat agter in die patrolliemotor sit.
”So Greyling.”
”Jy en Yster van Jaarsveld ken mekaar?” vra hy direk en vir ‘n rukkie is Leon verbaas.
”Ja, ons ken mekaar.” antwoord hy versigtig.
”Al vir hoe lank?”
”Paar jaar al.”
”Julle saam gewerk?”
”Nee, ons het saam geskiet.” en Willem kyk verbaas na Leon.
”Waar?”
”Kompetisies.”
”In die goeie dae toe daar nog genoeg ammo was?” en Leon knik.
”Ja, dinge het baie verander.”
”Het jy hom geken voor hy getroud was?”
”Ja, ek het.”
”So jy het sy vrou geken?”
”Ja, ek het.”
”Hoekom is hulle geskei?”
”Ek dink nie eers hy weet nie.”
”Hoekom nie?”
”Want partykeer werk dit so. Mense praat by mekaar verby sonder dat iemand verstaan wat
aangaan.” en Henk frons.
”Hy het nie geweet nie?” vra hy ernstig en Leon knik.
”Ek dink nie so nie.” en vir ‘n rukkie kyk Henk net na hom.
”Sleg vir iemand soos hy?” en Leon knik weer sonder om te antwoord. ”En al die stories?”
”Watter stories?”
”Die stories oor hom.”
”Dat hy by elke Stasie ‘n lêplek kry?”
”En dat hy die bottel kan vas vat.”
”Dit het net gebeur na die skeisaak.” en Henk trek sy mond.
”En die res is nie die waarheid nie. Julle sal sien, wanneer hy begin werk hou hy nie op nie.”
”Hy maak nie tyd nie?” en Leon skud sy kop.
”Waar kom die stories dan vandaan?”
”Jy werk ook in ‘n Stasie, Greyling.
”Waar al die stories vandaan kom, mense hou daarvan om te skinder.”
”Hoekom het jy nie vir Aryna vertel wie hy is nie?”
”Omdat hy my gevra het om dit nie te doen nie.”
”Hoekom nie?”
”Omdat hy ‘n private man is wat dinge op sy eie manier doen.”
”Het hy planne?”
”Watse planne?”
”Het hy planne met Aryna?”
”Is dit hoekom ek so uitgevra word?”
”Ja, want ek gaan baie seker maak hy gaan nie met haar ook mors nie.”
”Die stories is nie die waarheid nie.”
”En jy is baie seker daarvan?”
”Is daar iets tussen julle?”
”Tussen wie?”
”Tussen jou en Aryna?”
”Nee, Kolonel. Daar is nie, sy is net my vriendin.”
”Het jy ‘n ander vriendin?”
”Nee, ek het nie.”
”Weet jy wie my sekretaresse is?”
”Ja, Mandy Gouws.”
”Sy het ook nie ‘n vriend nie. Julle moet bietjie met mekaar gesels, sy is ‘n oulike meisie.”
”Aryna sê sy het ‘n riller van ‘n Pa.”
”Dit maak mos nie saak nie.”
”Of course maak dit saak, so ou korrelkop sal haar hele lewe beheer.”
”Gaan jy nie ook eendag so Pa wees nie?”
”Nee, ek gaan nie my kinders se lewe beheer nie.”
”Daai ander Prinsloo kind is ook nou geskei.”
”Ansonette?” vra Henk en Leon knik.
”Ek sukkel om haar naam te onthou.”
”Ons het gehoor sy is geskei.”
”Sy sou daarvan gehou het as haar Pa haar kon beskerm het.”
”Hoekom het hy nie?”
”Omdat haar ouers ook geskei is.
”Hy het nie eers belang gestel toe die latie gebore is nie.
”Eintlik is dit ‘n hartseer verhaal want ek dink sy het gehoop haar Pa sal meer betrokke wees met die latie maar toe is hy nie.
”En die waarheid is sy is net nog een van baie wat so leef.”
”Haar ouers was ook geskei?” vra Henk en frons.
”Almal word nie meer in gelukkige huisgesinne groot nie.
”Mandy is een van die min wat nog kan sê haar Pa stel in alles belang wat sy doen.”
”Mens kan te veel belang stel.” en Leon glimlag.
”Nee, Greyling. Dis nie moontlik nie. Jy is ‘n Pa of jy is nie.
”Ek het my dogters ook so groot gemaak.
”Ek het seker gemaak ek weet waar hulle is en saam met wie hulle is.
”Dis ‘n Pa se werk.” en dan moet Willem stadiger ry.
”Wat nou?” vra Leon en kyk na die verkeer. ”Iewers is iets verkeerd.”
”Seker weer een of ander lorrie wat sy load verloor het.” sê Henk en sug.
”Dis hoe dit werk, dis Vrydag en dan strap hulle nie die goed ordentlik vas nie.”
”Yes. Leon.” groet Yster die foon wat in sy sak lui.
Hy luister ernstig terwyl hy en Aryna saam na sy bakkie stap.
”Nee, ons het nog nie gery nie.” en hy luister weer.
”Waar?” en sy kyk hoe hy luister.
”Dankie, ek sal ‘n plan maak.” en hy sit die foon terug in sy sak.
”Iets verkeerd?” vra Aryna.
”Daar is ‘n stilstaande swaar voertuig op die N1, die verkeer is oral sleg opgehoop.” en sy frons.
”Hoekom moet dit altyd in die oggend of in die middag gebeur wanneer almal op die pad is?” vra sy en hy glimlag.
”Kom, ons kan langs die pad iets drink.” en sy kyk verras na hom.
”Hoekom?”
”Omdat dit nie nodig is om in die verkeer te sit nie, ons kan kies waar ons wil sit.” en sy knik toe hy vir haar die bakkie se deur oopsluit.
”Daar.” en hy wys vir haar waar sy moet vat voor sy trap.
”Wees net versigtig, dis hoog.” sy knik en lig haarself rats voor sy gaan sit.
Hy gaan langs haar sit en kyk hoe sy die veiligheidsgordel vasmaak.
”Ek’s reg.” sê sy en hy glimlag weer toe hy die enjin aanskakel.
Wanneer hy by ‘n petrolstasie intrek is die verkeer in die parkeer area sleg opgehoop. Van die
motoriste is ongeduldig en oral word toeters gedruk en hande geswaai.
”Waar is die trok?” vra sy en hy lag vinnig.
Hulle kyk altwee rond.
”Wat gaan aan?” vra sy en frons.
”Lyk vir my asof daai ou nie sy 4×4 geparkeer kry nie.” antwoord Yster en sy kyk waarna hy wys.
”Dis ‘n vrou en dit lyk of sy sukkel.” antwoord sy en frons.
”Is sy alleen?” vra hy en sy knik.
”Dit lyk so.” en sy hou die groot nuwe bakkie vir ‘n rukkie dop.
”Sy is ook al heeltemal gefrustreerd en opgewerk, die volgende ding wat gaan gebeur is sy gaan snot en trane huil en dan kan sy regtig niks doen nie.”
”Waarheen gaan jy?” vra Yster toe sy uitklim.
”Ek gaan haar help.” en hy sit en kyk waar sy by die bakkie gaan staan en aan die venster klop.
Die vrou maak die venster oop en sy praat met haar.
Vir ‘n oomblik lyk dit of die vrou op haar skree maar sy bly staan.
Na ‘n ruk gaan die deur oop en die vrou klim uit en staan weg.
Hy sien hoe Aryna inklim en dan heeltemal agter uit trek en op ‘n ander plek gaan parkeer.
Die vrou kyk dankbaar na haar toe sy weer inklim
My fok, jy is net nie bang vir mense nie.
Dan hoor hy hoe daar weer oral toeters gedruk word en van die manne hardop skree om haar te bedank.
Toe sy weer by hom in die bakkie inklim het die meeste voertuie al aan beweeg.
”Hoekom koop mans sulke masiewe bakkies as hulle vrouens dit ook moet bestuur? Sy kan nie eers oor die dak sien nie.” en sy haal diep asem.
”Hy kon twee kleiner karre gekoop het vir goedkoper, maar nou moet sy regkom met so monster trok omdat sy pêlle almal sulke monsters bestuur.
”Dis onbedagsaam en selfsugtig, hulle is veronderstel om getroud te wees.” praat sy baie ontsteld met hom.
”Miskien hou sy ook van sulke monster bakkies.” probeer hy redelik klink en sy kyk vies vir hom.
”Sy het amper gehuil van frustrasie, man.
”Sy kan mos sien sy weet nie hoe nie en almal om haar gaan aan soos mal goed.”
”Jy dink nie duur 4×4’s is belangrik nie?”
”Nee, ek dink nie so. Daai goed is swaer op petrol.”
”Nie almal nie.”
”Dis simpel om een in die stad te bestuur.”
”Miskien het hy naweek gewoontes wat so bakkie nodig het.”
”Dan hoef sy vrou dit seker nie Vrydagmiddag te bestuur nie.” Yster glimlag ongemerk en gaan parkeer toe die meeste karre weg is.
Jy is seker die mees vry denkenste mens wat ek ken.
”Kom, ek koop vir jou sjokolade koek.” stel hy voor en sy kyk weer verras na hom.
”Jy onthou?” en hy knik.
”Ek onthou baie dinge.” en saam stap hulle by die restaurant in.
”Ek drink nie koffie nie.” herinner sy hom.
”Ek onthou.”
”En jy het my hele lewe verongeluk.” en hy kyk verbaas na haar.
”Wat het ek gedoen?”
”Vir my gesê ek maak slegte koffie.” en hy lag weer.
”Ek is ‘n eerlike man.”
”Mmmm, ek weet nie of ek nou daarmee kan saam stem nie.”
”Hoekom nie?”
”Want jy het gemaak of jy iemand anders is.” en weer lag hy.
”Hoe lank gaan jy kwaad wees?”
”Ek is nie kwaad nie, net teleurgesteld.” en hy knik.
”My Pa het altyd so gesê as iets verkeerd gegaan het.” en sy glimlag.
”Leer ek jou nie om self te dink nie, Aryna?” praat sy in ‘n ander stemtoon.
”Jou Pa dit ook gedoen?” vra sy en hy skud sy kop.
”Hy het nie?”
”Nee, my Oupa het my grootgemaak.”
”Omdat jy nie ouers het nie?”
”Nee, ek het ouers, maar Oupa was bang vir vroumense.” en nou kyk sy fronsend na hom.
”Sy vrou is dood en toe is hy bang vir die klomp vroumense wat hom wou troos.” en sy draai haar kop skeef.
”Hoe oud was hy?”
”Nie so oud nie.”
”Hoe oud was jy?”
”Ek was al op Hoërskool.”
”Wat was sy naam?”
”Eben, ons het hom Oupa Ben genoem.”
”Eben is ‘n familie naam?” en hy knik.
”Daai kant, hulle hou gewoonlik die koek daar.” en hulle stap saam na die koffie toonbank.
”Sorry Sir, you are too late. All the cake is sold out.” verduidelik die werker agter die toonbank.
”What do you have left?” vra hy en kyk deur die glas.
”Only pies.”
”Is jy honger?” vra hy en Aryna knik.
”Net so lank dit nie steak en kidney is nie.”
”That is all that is left.”
”Maak nie saak nie, daar ander kant is koekies op die rak.”
”Koekies is nie kos nie.” en sy kyk verras na hom.
”Dis wat my Pa altyd gesê het.”
”Gelukkig is hy nie hier nie.”
Hulle gaan sit saam in ‘n hoek met ‘n pakkie koekies en ‘n botteltjie gegeurde melk vir haar en swart koffie vir hom.
”Dankie.” sê sy toe hy vir haar die strooitjie deur die foelie doppie druk.
Sy suig aan die melk en kyk vriendelik na hom.
”Dankie, Majoor. Dis lekker koud.”
”Majoor?” en sy knik. ”Ons is nie nou aan Diens nie.”
”Jy noem my Kaptein.”
”Oukei, as dit is wat jy wil doen.” en sy kyk na hom terwyl hy die pakkie oopmaak en vir haar
aangee. Sy vat een en hap dadelik daaraan.
”Dis baie soet.” en hy stoot sy koffie tot voor haar. ”En nou?”
”My koffie is bitter.”
”So?”
”Doop dit daarin.”
”Dit sal werk?”
”Probeer.” en dan doop sy die koekie versigtig in die warm koffie en hap vinnig.
”Mmmm, dit sal werk.” en dan kyk sy fronsend na hom.
”Jy gee nie om vir krummels onder in die koppie nie?” en hy skud sy kop.
Dan vat hy ook ‘n koekie wat hy in die warm koffie doop.
”Jy al besluit om te dieët?” en sy skud haar kop.
”Miskien more.” antwoord sy en hy glimlag.
Nadat hulle die hele pakkie koekies opgeëet het drink hy vinnig die koffie wat oorgebly het op.
Dan stoot sy haar melk tot voor hom.
”Wil jy proe?” en hy skud sy kop.
”Nee dankie.” en sy drink ook die laaste melk op.
”Vertel my van jouself.” en sy kyk verras na hom.
”Daar is nog goed wat jy nie van my weet nie?” en hy frons ook.
”Wat bedoel jy?”
”Ek weet Rochelle Louw het jou gehelp met die wapenondersoek.” en hy kyk vraend na haar.
”Ek weet wie sy is, Majoor.”
”Wie is sy?”
”Een van SAPS se beste bloedhonde.” en hy lag saggies.
”Sy sal dit as ‘n kompliment sien.”
”Ek bedoel dit as ‘n kompliment, maar nie as ek weet sy het my personeel file gesien nie.”
”Vertel my wat nie in jou file is nie.”
”Jy eerste, hoekom was Oupa Ben bang vir vroumense?” en hy lag saggies.
”Hy en Ouma is getroud toe hulle nog jonk en arm was. Hulle het saam op die plaas gewerk en met tyd saam ‘n suksesvolle plaas opgebou.”
”Hy was ryk toe sy dood is?” en hy lig sy hande.
”Die plaas was suksesvol, daar was baie uitvoere.”
”Wat het hy uitgevoer?”
”Avokados vir Westfalia en mangos vir homself. Hulle het makadamia neute ook aangeplant en saam die wilde varke geskiet in die donker.”
”Vrugte plaas?” en hy knik. ”Waar?”
”Laeveld, Tzaneen se omgewing.” en sy knik.
”Wat het die wilde varke te doen met makadamias?”
”Hulle vreet dit.”
”Vlak varke?”
”Nee, groot gevaarlike wilde varke wat baie skade kan veroorsaak.”
”Ek ken ook ‘n paar van hulle.” merk sy droog op en hy lag verras.
”Wat het toe van die plaas geword?”
”My Pa het dit geërf.”
”En toe is hy ook dood?” en hy knik.
”Was jy nie veronderstel om toe die plaas oor te neem nie?” en hy knik weer.
”Hoekom het jy nie?”
”Omdat my oudste suster en haar man nou die plaas bedryf.”
”Hoeveel susters het jy?”
”Twee, hulle is altwee getroud en hulle het altwee kinders.”
”Seuns of dogters?”
”Net seuns.”
”En jou Ma, waar is sy?”
”Sy bly nog op die plaas saam met hulle.” en sy knik.
”Gaan jy nog daar kuier?”
”Nie baie nie.”
”Hoekom nie?”
”Omdat die eenheid my besig hou.”
”Wat is jou siening oor plaasmoorde?” en hy kyk verbaas na haar.
”Hoekom wil jy dit weet?”
”Omdat jou mense nog boer, jy het seker al daaroor gedink?” en hy knik.
”Dis beheer.” en sy kyk fronsend na hom.
”Ons word beheer met vrees. Daar word seker gemaak ons doen niks nie.” en sy kyk vraend na hom.
”Jy wou weet wat ek dink, dis wat ek dink.” en sy trek net haar mondhoek effens.
”En wat beteken ons was net die toetslopie? Waarvan het jy gepraat?”
”Ek praat van Suid Afrika. Hulle gaan die res van die wêreld ook oorval met immigrante en alles onregeerbaar maak omdat daar nie genoegsame infrastruktuur is vir die vinnige aanwas nie. Ons was die eksperiment.”
”En dan?”
”Ek weet nie, maar wat op die oomblik in Europa gebeur word goed gemonitor.” en sy trek net haar oë en kyk skepties na hom.
”En Amerika?”
”Hulle gaan ook nog hulle kans kry.”
”En wie is hulle wat al die goed doen?” en nou trek hy ook net sy oë.
”Miskien jou reptiles.” dan kyk sy ondersoekend na hom.
”Spot jy met my?” en hy skud sy kop. ”Ja, jy doen.” en hy glimlag groot.
”Mmmm, vertel my liewer van jou spanne.” en hy skud sy kop. ”Hoekom nie? Dit maak darem sin.”
”Want dis nou naweek, dan praat ons nie job nie.”
”Ek wil nie daarvan weet nie, ek wil weet van die manne wat saam met jou werk.”
”Hierdie is my vyfde span.” en sy knik. ”Bloemfontein is die oudste span.”
”Nog almal dieselfde lede?” en hy knik.
”Waar is jou belangrikste span?” vra sy en hy frons.
”Elke span moet in sy eie omgewing spesialiseer.” en sy kyk vraend na hom.
”Daar is orals uitdagings, maar in elke stad is daar ook spesifikie probleme.”
”Hoekom?”
”Omdat daar verskillende invloede is soos die hawens in Durban en Kaapstad. Hier is die Oliver Tambo lughawe, ons sal nog alles leer soos ons vorder.” en sy knik en kyk ernstig na hom.
”Wat?” vra hy en sy trek net haar mond.
”Is dit orals dieselfde bendes?”
”Nou praat jy job.”
”Antwoord net gou.”
”Meeste van hulle het nasionale connections.”
”En jy weet wie hulle almal is?” en hy knik.
”Dis my werk om te weet.” en sy knik ook.
”En jy?” vra hy na ‘n rukkie.
”En ek wat?”
”Wat weet jou Ma van die wapenondersoek?” en sy frons.
”Ek weet dat jy huis toe gegaan het na die skietvoorval.”
”Ja, sy het my by my woonstel kom haal en my vir drie dae aanhoudend vertel hoe onverskillig en onverantwoordelik ek is.” en hy glimlag.
”En hoe gelukkig ek kan wees my Pa leef nie meer nie, want hy sou net so ongelukkig gewees het.”
”Weet jou Ma dat jy daai pers dinosaur gevat het?” en vir ‘n oomblik kyk sy verbaas na hom.
”Hoekom vra jy?”
”Want ek dink nie sy weet nie.” en sy antwoord nie. ”Is dit hare?”
”Ja, dit is. Een van haar heel eerste pasiente het dit vir haar gebring.” en hy knik. ”So kleintjie met ‘n sproetneus. Sy het hom gehelp.”
”Waarmee?”
”Lees probleme.”
”Disleksia?” en sy knik.
”En sy doen dit wanneer julle nie jam tertjies en vla tertjies bak nie.” en sy lag vrolik.
”Moenie die melktert vergeet nie.” en hy glimlag en kyk in haar oë.
”Maak julle saam tuin?” en sy knik.
”Jy het vir my ‘n wit cyclamen gestuur.” onthou sy.
”Was jou vensterbank toe vol?” en sy knik weer.
”Baie dankie.”
”My plesier.”
”Nie net vir die plantjie nie, vir jou hulp met die interne ondersoek ook.” en hy kyk verras na haar.
”As dit nie vir jou en Rochelle was nie het ons dalk regtig in aanhouding beland want Koen de Waal het nie veel gehelp nie.” en hy glimlag weer.
”Jou Ma is reg, jy is onverskillig en onverantwoordelik.”
”Wat het ek gedoen?”
”Jouself geskiet gekry.”
”Ek het nie gedink hy sal skiet nie.” en hy skud sy kop ongelowig.
”Jy het glad nie gedink nie. Hy kon jou eie wapen gebruik het, jy het langs hom gestaan.”
”Henk het al met my baklei, jy hoef nie ook nie. Dis al lank gelede en ek het niks oorgekom nie.”
”Julle is al lank vriende?” en sy kyk vraend na hom. ”Jy en Greyling?”
”Ek het hom by die College gekry.”
”En julle is nog altyd vriende?” en sy knik.
”Ja, Henk Greyling is my beste maatjie.”
”Nie Mandy Gouws nie?”
”Ek ken haar nog nie so lank nie. Sy werk nou seker so drie of miskien vier jaar vir Leon.”
”En jy en Greyling is net vriende?” en sy glimlag saggies en knik.
”Het jou Pa hom geken?” en sy knik weer.
”My Ma dink hy is te jonk.”
”Waarvoor?”
”Om meer te wees as net vriende.”
”Maar julle is ewe oud.”
”Dis nie wat sy bedoel het nie.”
”En jou Pa?”
”My Pa het gedink ek is net ‘n kind en ek het beter dinge om te doen met my lewe.”
”As om College toe te gaan?” en sy knik. ”Hoekom het jy toe gegaan?”
”Omdat ek wou.”
”Maak jy nog juwele?” en vir ‘n oomblik weet sy nie waarvan hy praat nie.
”Yvonne by die restaurant het gedink jy moet jou silwer juwele adverteer op Facebook?” en toe sy onthou is haar oë effens hartseer.
”Nee, ek doen dit nie meer nie.”
”Hoekom nie?”
”Omdat ek nie iemand kon kry wat my kon leer nie.”
”Hoe ver het jy gesoek?”
”Dit moet in die omgewing wees, ek kan nie vir dae aaneen gaan vir iemand om my te wys nie.”
”Jy lyk hartseer daaroor?”
”Hartseer gaan my nie baie help nie, dis te duur om aan te gaan sonder genoeg kennis.” en hy kyk ondersoekend na haar.
”Hanteer jy altyd konflik so?” vra sy en hy frons.
”Frik en Thomas nou die dag oor apartheid?” en hy glimlag stil. ”Wat?” vra sy.
”Dis deel van die job.”
”Gaan jy hom penaliseer?” en hy skud sy kop.
”Almal het verskillende sieninge.”
”En jy aanvaar dit so?”
”Daar is baie dinge wat ons moet aanvaar, ons werk met die publiek en daar is baie dinge wat ons elke dag sien waarmee niemand saam stem nie.”
”En die meeste mense is maar lekker zef?” en hy glimlag weer.
”Vertel my van die reptiles.” en sy kyk ondersoekend na hom en dan skud sy haar kop.
”Hoekom nie?” vra hy verbaas.
”Sommer nie.”
”Glo jy dit?” en sy kyk lank vir hom.
”Ja, ek glo dit maar nie soos dit verduidelik word nie.”
”Hoe moet dit verduidelik word?” en sy skud weer haar kop.
”Jy gaan my nie vertel nie?” en sy skud net haar kop.
Jy sal nog.
”Oukei, is dit net jy?” en sy frons. ”Het jy broers en susters?”
”Ek het … lank gelede …” en sy praat nie klaar nie maar kyk net vir hom.
”Storm?” en sy reageer nie. ”Is jy die enigste kind?” en sy knik.
”Ja, dis net ek.” en hy frons toe sy op haar horlosie kyk. ”Ons moet ry.”
”Dis nog vroeg.”
”Die verkeer moes al bedaar het.” en sy staan op.
”Baie dankie dit was lekker, maar ons moet regtig nou ry.”
”Bang vir stories?” en sy knik.
”Veral saam met jou.” en hy frons.
”Jy is nog nie eers ‘n week in Jeppe nie en ons kuier al klaar saam na ure, jy verstaan nie hoe daar geskinder gaan word nie.”
”Maar ons ken mekaar.”
”Nie goed genoeg om deur almal bespreek te word nie.” en hy staan ook op.
”Ek gaan gou badkamer toe?” en hy knik toe sy wegstap.
Wat het nou net gebeur?
Het ek iets gevra wat ek nie moes nie?
Die reptiele?
Wat glo jy daaroor?
Maar jy is reg, almal sal weet ons het saam ingekom na ure.
Ek dink nie ek gee om nie.
Hulle kan sê net wat hulle wil.
”Jy gaan die naweek saam met Julian West bestuur?” vra hy en sy kyk verbaas na hom toe hulle weer in sy bakkie is.
”Hoe weet jy?”
”Allan en Bob het almal daarvan vertel.”
”Ja, hy het gesê hy sal my kom haal vir Sondag.”
”Jy gaan nie kerk toe nie?” en sy knik.
”Partykeer saam met my Ma.”
”Watter kerk?”
”My Pa was ‘n skoolhoof, hy het dit sy plig gevoel om na die staat se kerk toe te gaan.” en sy giggel skielik.
”En nou?”
”Christo noem hom Micheal Schumacher.”
”Julian West?” en sy knik. ”Het jy al die Vermaak latie gesien?”
”Ja, ek het. Hy lyk net soos sy Pa.” en haar oë is skielik groot en blink en opgewonde.
”En Cindy is vir die eerste keer Ma. Ek was al daar dat sy so moeg is, die arme ding. Maar as sy
hom vashou is alles vergete. Dan onthou sy net sy wag al vir hom vir jare.”
”En sy Pa?”
”Ek dink nie hy kan wag dat hy groter is nie, hy wil met hom gesels en bal speel en nou is hy nog te
klein. Hy sal ‘n goeie Pa wees.”
”Hoekom het hy aansoek gedoen vir die span?” en sy kyk vraend na hom.
”Die laitie is nog baie klein, gee sy nie om nie?”
”Hy wag al lank vir die kans om saam met jou te werk. Die meeste van hulle het vir jou gewag.”
”Wat weet jy van Alex Khumalo?”
”Hy is al vir ‘n paar jaar by Central en wat ek gehoor het is hy ‘n goeie Pa.”
”By wie het jy gehoor?”
”By van die vroue offisiere, hulle praat net goed van hom. En glo my, hulle sal weet. Ek dink hy het drie dogters en hy maak hulle streng groot volgens hulle eie tradisies.”
”Ken iemand sy vrou?”
”Nee, ek dink sy werk vir die regering.”
”Sy doen?” en sy knik. ”Waar?”
”Ek weet nie eintlik nie maar miskien is dit die departement van padongelukke. Is daar so
departement?” hy glimlag en skud sy kop.
”Dan weet ek nie, maar dis so iets.” dan parkeer hy by die Stasie en kyk ernstig vir haar.
”Gaan jy aan met opleiding Maandag?” vra hy.
”Hoekom hou jy aan vra?”
”Omdat ek jou nie verder wil oplei nie.”
”Hoekom nie?”
”Dink asseblief weer daaroor, dit is nie ‘n goeie idee nie.”
”Ek het nie eers vir my Pa geluister nie, hoekom dink jy sal ek vir jou luister?”
”Omdat ek nie speel met fisiese opleiding nie.”
”Dit maak nie saak nie.”
”Asseblief, Storm. Jy is nie sterk genoeg nie. Jy gaan dit nie maak nie.”
”Daar is vrouens by STF en in Hillbrow Stasie, daar is vrouens by die Hawks en by Flying Squad, wat is jou probleem met vroumense?”
”Jy is nie sterk genoeg nie?”
”Hoe sterk moet ek wees? Sterk genoeg om iemand uit te slaan?”
”Sterk genoeg om jouself te kan verdedig.”
”Ek moes dit al doen.”
”Ek wil jou nie verder oplei nie.” dan klim sy uit die bakkie en stap na haar eie kar toe sonder om hom te groet.
Hy sit en kyk hoe sy die perseel verlaat en hy sug.
Jisses, jy is ‘n hardekop.
Dan klim hy rustig uit sy bakkie en stap na sy kantoor toe. Hy glimlag toe die dinosaur weer vir hom wag op sy stoel. Daar is ‘n nota by en hy glimlag toe hy lees.
Henk Greyling, eerste ontvanger van die Johannesburg Ysterbrigade wisseltrofee.
Jy behoort te verstaan wat ek gaan doen, jy het my verlede jaar eers laat koud slaap met die hoop om my by jou woonstel te verjaag.
En toe het jy my in jou bed toegelaat omdat jy presies verstaan hoe dit werk.
Kom ons kyk wat gebeur as ek dit ook doen.
”Yes swaer.” groet Leon van die deur af.
”Yes Leon. Hoe lyk’it?”
”Waar is Aryna?”
”Sy het nou net gery.”
”Gaan sy aan met opleiding volgende week?” en Yster knik. ”En die skietery, kon jy haar help?”
”Sy weet nou wat sy doen.”
”Sy doen dit al vir jare verkeerd.” en Leon lyk ingedagte.
”Iets wat jou pla?” vra Yster en kyk ondersoekend na hom.
”Henk Greyling het baie uitgevra?”
”Waaroor?”
”Oor jou.” en Yster frons. ”Oor al die ou stories en of ek jou vrou geken het en so aan.”
”Weet jy hoekom?”
”Omdat hy nie gaan toelaat dat jy met Aryna mors nie.”
”Dis nie my plan nie.”
”Werk net mooi met haar, want ek is bevrees hy sal onvoorspelbaar optree as sy by hom gaan huil oor iets.” en Yster kyk heeltemal sonder emosie na hom.
”Ons sal sien wat volgende week gebeur.” en nou kyk Leon fronsend na hom.
”Jy het nog nie van gedagte verander nie?” en Yster skud sy kop.
”Is daai boks wapens terug gevat Hillbrow toe?” en Leon knik.
”Nee, swaer. Ek het nog nie van gedagte verander nie. Sy word nie deel van my span nie.” en Leon knik weer stadig.
”Wat maak jy die naweek?”
”Ek moet my nuwe files begin.” en hy wys na die bokse op die grond.
”Jy wil nie Sondag saam met ons kom braai nie?” en Yster kyk verras na hom. ”Jy onthou mos nog waar ek bly?”
”Ek onthou, maar nie die naweek nie. Dankie, maar ek moet op datum bly. Vra my volgende keer weer.”
”Wat van die klein Engelsmannetjie, sy gaan die naweek saam met hom rondry?”
”West?” en Leon knik. ”Niks van hom nie, hy maak haar nie opgewonde nie.”
”Ek moet met jou verskil.”
”Dis nie hy nie, dis die wiele.”
”En jy is seker?” en hy knik. ”Dan gaan ek ry.”
”Sien jou.” en dan bly hy alleen in sy nuwe kantoor agter.
Hy tel die dinosaur op en kyk lank daarna voor hy effens sug.
Jammer Stormpie.
Jy is nie sterk genoeg nie.
Jy gaan my dwing om vuil te speel omdat jy nie na rede wil luister nie.
Wat hulle dan van my gaan sê sal ons later hanteer.
Ek is nie jou Pa nie.

Published inBoek 2 HoofstukkeYster-Boek 2