Skip to content

Yster Boek 2 Opleiding – Hoofstuk 50

Dag 5
Die volgende oggend wag hy weer vir haar toe sy parkeer.
”More Majoor.” groet sy toe hy nader stap.
”Het jy geëet?” vra hy sonder om ook te groet.
”Ja, ek het.”
”Wanneer?”
”Gisteraand.”
”En vanoggend?” sy knik vinnig sonder om te antwoord. ”Wat het jy geëet?”
”Wat maak dit saak?”
”Kaptein Storm, wat het jy geëet vir ontbyt?”
”Pienk joghurt.”
”En wat nog?” sy sug en kyk in sy oë.
”Dis al.”
”Kom saam.”
”Waarnatoe?”
”Na my kantoor toe.”
”Hoekom?”
”Stap.” sy kyk ongelowig na hom.
”Stap Kaptein.” sy stap baie onwillig voor hom aan.
”Het jy van die sportsdrankies gedrink?” sy knik.
”Genoeg?”
”Hoeveel is genoeg?”
”Ten minste ‘n hele bottel.”
”Ja, ek het.” by sy kantoor gaan sy in die deur staan.
”Wat moet ek doen?”
”Daar is ‘n paar piesangs, jy moet daarvan eet.”
”Vir wat?”
”Omdat ek weer hard gaan druk vandag, jy sal nie kan rus nie en joghurt is nie genoeg nie.” sy stap na waar die vrugte lê en vat een en hy bly in die deur staan.
”Wat nou weer?”
”Ek wil sien dat jy dit eet.”
”Regtig?” en hy knik.
”Ek sal die damn ding eet as ek honger word.”
”Jy kan nie eet terwyl ons besig is nie.” en sy kyk fronsend na hom.
”Ek is ernstig Storm, dis die laaste dag en ek druk hard vandag, eet asseblief die piesang.” sy trek haar mond en stap uit.
Hy haal diep asem en stap agter haar aan. Hy sien hoe sy die piesang begin skil en dan stap hy by haar verby sonder om te sien hoe vyandig sy na hom kyk.
”Ons moet ry, kom kry ‘n aanvalswapen en bel vir Blackie as jy klaar is.”
”Goed, ons is almal hier.” begin Yster die dag en kyk oor die groep.
Aryna kyk nie vir hom nie en hy aanvaar dit so.
”Vandag bespreek ons ontvoering.
”Ongelukkig is dit iets wat ook hier in Suid Afrika posgevat het en aanhou groei.
”Ons wag vir die manne wat presies weet hoe dit werk maar tot tyd en wyl hulle nie hier is nie, kyk ons na ‘n paar videos.” hy skakel weer die groot TV aan en hulle kyk saam na ‘n paar ontstellende opnames.
Nege uur die oggend gaan drink almal saam koffie toe twee nasionale anti-ontvoering voertuie op die perseel parkeer en Yster stap om hulle te gaan groet.
”Wat de fok?” vra Henk toe hy die motors sien. ”Dit gaan lekker raak vandag.”
”Is daar nie baie stories oor hierdie eenheid nie?” vra Aryna en Willem knik.
”Allerhande duur wiele wat die senior ouens by die huis bestuur, net nog een van die spesialis
spanne wat nie heeltemal vertrou kan word nie.”
”Hoekom sal hy hulle dan gebruik?” vra Henk ernstig.
”Hulle weet seker wat aangaan.”
”Bedreig hy nie hulle territories met sy spanne nie?”
”Seker hoekom hy nou eers hiernatoe kom, daar is reëlings gemaak.”
”Fok, dis hoe dit nou orals werk.”
”Hoekom is daar nie sulke stories oor hom nie?” vra Aryna.
”Hom wie?” vra Henk en Aryna wys na Yster wat saam met die vier manne aangestap kom.
”Nee, man. Daar is nie sulke stories oor hom nie.” verseker Henk haar en dan stap almal weer saam na die klas.
”Soos ons reeds bespreek het vanoggend is daar al ‘n paar jaar baie probleme met ontvoering wat net aanhou groei.”
”Families gaan deur baie emosionele trauma terwyl daar ondersoek gedoen word na die verdwyning van familie lede en veral kinders.
”Daar word vermoed dat van die slagoffers gereeld in die Johanneburg omgewing aangehou word en hierdie manne is hier om inligting te deel oor wat gebeur in hulle eenheid.” en een van die manne staan nader en gaan staan voor die groep.
”Sorry, we are late.” begin hy.
”But it’s Friday and the traffic is already kak.” en die groep knik stil.
”Yster is correct.
”This problem keeps growing because most cases are not being reported.
”Lots of money is exchanging hands without us knowing about it.
”It’s a shame, because just like you, we are trained to help.
”Gauteng is the epicentre of this crisis, more than half of all the reported cases is from here.
”In the case of children, the crime is also committed against the parents or guardians, so even where a child consents to being taken, the act remains criminal due to the unlawful interference with the custodial rights vested in their legal guardians.
”The point of kidnapping is to capture and keep prisoner a person you have no legal or moral right to do so.
”The purpose might be to use as a hostage, to hold for ransom or to make available for sexual
purposes.
”Sometimes parents will take unlawful custody of children when legal custody has been denied during divorce proceedings.
”Handling these cases can indeed be very emotional and traumatic for the family as well as officers.
”Don’t think this is easy, you go through everything with the family.
”Let’s talk about the influence we believe syndicates have on this and the crucial time right after the kidnapping happened when everybody is waiting for that call.”
Na ‘n stewige inligting sessie met baie vrae kom staan Yster weer voor hulle.
”Hierdie manne gaan ons nou help om van die scenarios waarmee hulle al te doen gekry het op te stel sodat ons beter kan verstaan wat regtig gebeur.
”Misdadigers wat bereid is om ander mense se kinders te vat vir geld sal baie ander dinge ook doen.
”Maak seker jy is volledig gewapen, ons beweeg weer na die oefen terrein.” en die groep stap saam na buite waar hulle saam in een van die geboue begin oefen om slagoffers uit sulke omstandighede te gaan haal.
”Kaptein Storm, jy is eerste.”
Dis nie lank nie toe is die meeste kanidate natgesweet en uitasem want hulle word hard gedruk om vinnig en skoon te werk.
Alles wat deur die verloop van die week geoefen is word nou ingespan, daar word met behulp van toue geklim en geklouter om ongemerk in geboue te kom en hoe om dit dieselfde manier te ontruim.
Weer word daar geraas en geskree en aan gejaag.
Weer en weer.
Oor en oor.
”Ons mors tyd, julle moet beter aandag gee hier, dis waar ons tyd verloor. Ons doen dit weer.”
”Kaptein Storm, jy is eerste.”
Yster vereis konsentrasie en hy maak seker almal gee dit.
Weer en weer.
Oor en oor.
”Kaptein Storm, jy is eerste.”
En dan word dit gedoen in stilte.
Die groep beweeg in stilte agter Yster aan, hy gebruik net hand tekens en na ‘n hele paar
verskillende scenarios hanteer is ruim die spesialiste op en kom groet die span.
”Most of the guys in our team won’t last this long.
”Well done.
”I leave you in in very capable hands, this man knows exactly what he is doing.” en dan kyk hy na Aryna.
”You are the first woman he is training?” en sy knik.
”You always first?” en sy knik weer.
”Good luck.” en dan stap Yster saam met hulle na die voertuie.
”We heard you are training a woman, and now we see we heard correct.” en Yster glimlag effens.
”Politics?” en hy knik weer.
”Who is she?” vra ‘n ander man.
”Aryna Storm.”
”She got shot when you cleaned up Jeppe last year?” en Yster kyk verras na hom.
”We hear everything, you know how it works.”
”But now we need to leave because the traffic will never be kind on a Friday.” en Yster vat die hand wat uitgesteek word.
”Thanks for your input.”
”Always a pleasure and congratulations on the new team.” en dan stap hulle weg na hulle voertuie.
”Fish!”
”Yes Majoor.”
”Maak seker daai toue word versorg, ons kan dit nie so los nie.” en nadat die oefen terrein opgeruim is stap almal saam na die eetsaal maar Aryna stap vinnig na die badkamer.
”Eina, bliksem.” sê sy hardop en hou heeltemal op asem haal terwyl sy eers die koeëlvaste baadjie moeilik uit trek en toe haar hemp versigtig uit haar broek trek en heeltemal oplig.
Sy gaan staan voor die spieël en kyk fronsend na die bloederige kneusplek op haar ribbetjies.
Gelukkig het ek die nuwe een aangehad anders het dit dalk gebreek.
Die seerplek is groter as wat sy gedink het en dan trek sy weer haar asem hard in toe sy versigtig daaraan vat.
Baie versigtig spoel sy koue water oor die warm plek en wanneer sy klaar is gaan staan sy moeg en warm teen die muur.
Dis nou die laaste ding wat ek nodig het.
Hy gaan my baie beslis nie in sy span insluit as ek nou opgee nie.
Nog net vanmiddag dan is ons klaar.
Ek gaan baie beslis klaar maak met jou simpel opleiding en dan gaan ek vir jou sê om jou heilige eenheid in jou gat op te steek.
Ek werk nie saam met iemand wat my nie wil hê nie.
Mislike ding.
Voer my asof ek ‘n kind is.
Mamma is die enigste een wat dit kan doen.
Pappa het nie eers nie.
Dink net jy weet alles.
Weer spoel sy koue water baie versigtig oor die kneusplek voor sy haar gesig ook vinnig afspoel.
Dit gaan more seer wees.
Saam met jou is ek heeltemal gejinx, ek kry nooit seer nie en nou is dit die tweede keer en jy is weer hier. Ek sal dit nie maak as ek saam met jou moet werk nie.
Dan druk sy hemp baie versigtig in haar broek, trek die nuwe baadjie aan en stap dan eetsaal toe.
Ek sal vir Ronel Basson gaan verduidelik ek wil nie bevorder word nie, ek is heeltemal gelukkig by
gewone diens.

Wat kan sy sê, dis my keuse.
”Hoekom is jy so nat?” vra Henk verbaas toe sy by hulle gaan sit in die eetsaal.
”Ek het gou gaan afspoel.”
”Jou klere ook?” vra hy en frons.
”Is jy oraait?” vra Willem en frons ook.
”Ja, alles is reg.”
”Drink jy genoeg water?” en sy knik.
”Gaan haal gou vir jou kos.” moedig Henk haar aan en sy kyk wat hulle eet.
”Ek is nie honger nie.”
”Dit maak nie saak nie, gaan haal net ‘n bietjie.” en sy trek haar mond.
”Ek kan onthou hoe dit proe.” en hulle kyk altwee ongelowig na haar.
”Wil jy nou eers weer oorlog maak met die man?” vra Henk en sy skud haar kop.
”Dis die laaste keer wat jy College kos hoef te eet. Ons is vanaand klaar dan kan jy weer jou boring noodels eet.”
”My noodels is nie boring nie.” dan staan sy op en gaan haal vir haar ‘n bord kos.
Toe sy terug stap na die tafel sien sy hoe Yster haar dophou.
Nie een van hulle reageer nie maar sy weet hy gaan kyk wat sy eet.
”Enige beserings waarvan ek moet weet voor ons aan gaan?” vra Yster toe hy opstaan.
”Niemand nie?” maak hy seker.
”Dan is dit ons laaste sessie wat voorlê. Baie geluk julle het dit almal gemaak tot hier. Sien julle weer buite.”
”Ek gaan gou toilet toe, sien julle by die oefen terrein.” sê Aryna vir Henk toe hy klaar is.
”Moenie dat hy vir jou wag nie. Ons is nou amper klaar.”
”Ja, oukei. Ek gaan net gou piepie.”
”Is jy Aryna Storm?” vra ‘n vreemde beampte haar toe sy later na die oefen terrien stap.
”Ja, wie is jy?” hy is kort en fris gebou.
”Kom saam met my.”
”Hoekom?”
”Yster wil jou sien.” en sy kyk hom ondersoekend aan.
”Ek weet wie jy is, Thys de Vries?” vra sy en hy knik. ”Wat maak jy hier?”
”Kom net saam.”
”Nee, ek dink nie so nie. Hy weet presies waar ek is want ons is besig met opleiding.” en dan staan hy nader en gryp vinnig na haar arm.
Voor sy kan keer is daar nog ‘n man wat haar ander arm ook gryp.
Sy het hom nie gesien nie en dadelik sit sy haarself teë en dan gooi Thys haar oor sy skouer.
”Eina, eina!” roep sy hard en begin hom teen sy rug slaan. ”Jy maak my seer.”
”Sal jy ophou.” sê hy ontsteld toe sy begin skop ook.
”Sit my neer, jy maak my seer.” hy gryp wild na haar bene en druk haar styf teen hom vas.
”As jy net saam werk hoef dit nou nie so ding te wees nie.”
”Wat moet julle doen?” vra sy baie ontsteld en hy hou aan loop.
”Ons moet jou vir ‘n ruk gaan toe sluit.”
”Vir wat?”
”Omdat hy so gesê het.”
”Ontvoering is onwettig.”
”Dis nie ontvoering nie, dis opleiding.”
”Opleiding se voet, man. Dit is blêrrie ontvoering. Sit my neer.” en hy gaan staan.
”Gaan jy self loop?”
”Nee.” en hy begin weer aanstap.
”Dan dra ek jou.”
”Hy het gesê al die stories is nie die waarheid nie.”
”Watter stories?”
”Dat hy die voertuie saboteer as deel van sy opleiding.”
”Dit is nie die waarheid nie.”
”Vir wat moet ek dan toegesluit word?”
”Vir span bou.”
”Span bou se voet! Jy is net so mislike blêrrie mansmens soos hy!” wanneer hy haar hardhandig
voor ‘n stel trappies neersit kyk sy verbaas daarna.
”Dis die oefenterrein.” en Thys knik. ”Hoekom hier?”
”Ek het jou gesê, dis deel van opleiding.”
”Maar ons het dit al gedoen vandag.”
”Hulle gaan dit weer doen, sonder jou.”
”En dan?”
”Dan gaan hulle eerstehands uitvind hoe om iemand te gaan haal onder moeilike omstandighede.” sy kyk rond in die gebou en dan na hom.
”Wat is moeilike omstandighede?”
”Kom, jy moet loop.” en sy skud haar kop en bly staan.
”Moes julle dit al doen?” en hy kyk fronsend na haar.
”Moes julle al iemand gaan haal wat ontvoer is?”
”Ons het al gehelp. Die anti-highjackers word gewoonlik ingebring as hulle daarvan weet.”
”Vir wat oefen hy dit dan soos ‘n mal man?
”Hy weet net nie wanneer om op te hou nie, hy gaan aan asof ons in die Army is.” en dan kyk sy ondersoekend na die ander man ook.
”Omdat dit kan gebeur.” antwoord hy en sy knik.
”Wie is jy?” vra sy en kyk die ander man in die oë.
”Pietman.”
”Kom, tot bo.” en toe sy teen die trap begin uit klim kan Thys sien sy het seer.
”Waar het jy so seer gekry?” vra hy en kyk regtig begaan na haar.
”Ek het nie seergekry nie.” ontken sy dit dadelik.
”Ja, jy het.” en sy skud haar kop. ”Sê hom net, hy sal wil weet.”
”Man, los my uit. Ek het nie sy hulp nodig nie.” en dan klim sy moeilik tot bo.
Hy wys haar om by ‘n deur in te gaan en sy frons.
”Ons moet jou nou hier los.” en haar oë word groot toe hy ‘n swart plastiek koord uit sy sak haal.
”Nee, jy gaan my nie vas maak nie.” probeer sy haar weer teë sit.
”Dis net tot hulle jou kry.” probeer hy haar tot bedaring bring.
”Nee.” en sy kyk baie kwaai vir hom.
”Bedaar net, dis net vir ‘n ruk.”
”Hoekom my dan vas maak?”
”Sommer. Foon.”
”Wat?”
”Ek wil jou foon hê.”
”Nee.”
”Ek kan jou nie met jou foon hier los nie.”
”Ja, jy kan.” dan staan hy nader en sy kyk met baie groot oë na hom
”Kaptein de Vries, as jy my gaan pat gaan ek ‘n saak teen jou maak.” waarsku sy ernstig en hy kyk fronsend na haar.
”Is jy altyd so vol kak?
”Ek het mos nou vir jou verduidelik wat gaan gebeur, dis deel van sy opleiding.
”Jy gaan niks oorkom nie want hy weet waar jy is.”
”Jy dink ek is nou vol kak, jy moet my sien as Yster van Jaarsveld my net nou hier kom haal.”
”Sit dan net die ding af.” en sy skud haar kop. ”Jy gaan nie?”
”Nee, ek gaan nie.”
”Sal jy dit net doen, asseblief?” en sy skud weer haar kop.
”Dis in my handsak.”
”Waar is jou handsak?”
”In die patrolliemotor.” en hy sug verlig.
”Jisses, jy is vol kak.” en sy trek net haar mond.
”Gaan in.”
”Is daar goggas?”
”Seker ‘n paar spinnekoppe.” en dan skud sy haar kop.
”Ek hou nie van goggas nie.” en hy maak die deur oop.
”Gaan in.” en sy loer vinnig na binne.
Dit is vol verf emmers en orals is bokse op rakke gepak.
”Ek is ernstig, ek hou nie van goggas nie.” en sy kyk vinnig weer na alles.
”Ons moet jou hier los.” en sy kyk weer vyandig na hom.
”Sowaar as wragtig, Thys de Vries, ek gaan julle weer eendag langs die pad kry en dan gaan ek
onthou van hierdie stoor.” dan stap sy in. ”Wat nou?”
”Gaan net om die draai en sit.” en hy wys na ‘n vuil plastiek stoel en sy gaan versigtig sit.
”Wees net versigtig, ek het seer gekry.”
Hy maak haar hande met die plastiek kabel vas aan ‘n groot stowwerige rak.
Sy sit en kyk hoe hy nog ‘n kabel vat en haar voete aan die stoel vasmaak.
”Is dit sy idee?” vra sy en haar oë raas en skree met hom.
”Gaan jy oraait wees?” vra hy en maak seker dis nie te styf nie.
”Regtig! Jy gaan nou oor my bekommerd wees nadat jy my hier vasgemaak het?”
”Ek hoop nie jy hoef te lank wag nie.”
”As een of ander gogga op my klim gaan ek vreeslik hard skree.”
”Ek moet jou mond toeplak,” en sy kyk verontwaardig na hom. ”en die sak op jou kop sit.” en hy haal ‘n blou strepe kussingsloop uit sy sak en Pietman gee vir hom ‘n rol kleefband aan.
”Julle is ernstig!” en haar oë is groot.
”Dis om die regte idee oor te dra.” verduidelik Thys.
”Onthou net ons sien mekaar weer eendag. Altwee van julle, ek sal onthou.” dreig sy.
”Hy wil jou nie in sy eenheid hê nie.” sê Thys baie ernstig.
”Ek weet, hy het dit al ‘n paar keer self vir my gesê.”
”Gaan jy bly?” vra Thys ernstig.
”Dit het niks met jou te doen nie.”
”Jy het saam met hom die wapenondersoek gedoen?”
”Ja.”
”En toe skiet die Engelsman jou?”
”Ek het ‘n vest gedra.”
”Waar het hy jou geskiet?”
”Op my rug.”
”Waar het jy nou seergekry?”
”My ribbetjies.”
”Nie dieselfde plek nie?” sy skud haar kop. ”Kan jy asem haal?”
”Ja.”
”En?”
”En wat?”
”Wat het jy van hom gedink?”
”Van wie?”
”Van Yster.”
”Wat het ek van hom gedink?! Jy is nie ernstig nie.”
”Ek wil net weet wat jy van hom dink.”
”Ek sal jou presies vertel wat ek van hom dink, hy is ‘n bliksem wat nie weet wanneer om op te hou nie. Is jy nou tevrede?”
”Hoekom dink jy hy is ‘n dinosaur?”
”Hy het jou dit ook vertel?”
”Nee, ons het die storie gehoor oor die ding wat jy in sy kantoor vir hom gelos het.”
”Ek het dit nie vir hom gelos nie, jou inligting is foutief.”
”Hoekom het hy dit dan gekry?”
”Omdat ek nie geweet het hy sal daar wees nie.”
”Jy maak planne soos jou gat.”
”Soos my gat?” hy knik.
”Is dit so? En jy is ook net nog ‘n dinosaurus, presies net soos hy.” en hy lag vrolik.
”Vir wat hoor julle sulke stories in die Wes-rand?”
”Omdat ons in sy eenheid is, ons hoor al die stories oor hom.”
”Net nog ‘n klomp skinderbekke.” beskuldig sy hom.
”Ons is mans, ons skinder nie.”
”Asof enige iemand dit nog glo. Julle skinder baie beter as ons.”
”Jy moet vir hom sê jy het seergekry.”
”Wat gaan hy dan doen, my uitskop?”
”Nee, dis sy werk om jou te versorg.”
”Ek is oraait, ek het nie sy hulp nodig nie.”
”Dan is ek regtig jammer.” en vinnig plak hy haar mond toe en sit die kussingsloop op haar kop. Hy vat aan haar skouer.
”Sê vir hom jy het seergekry. Hulle sal netnou hier wees.” en sy reageer glad nie.
”Sorrie girl, as jou maatjies mooi geluister het na wat aangaan is hulle netnou hier.” en hy maak die deur stil toe.
”Majoor.”
”Yes Greyling.”
”Storm is nog nie hier nie.”
”Waar is sy?”
”Sy het toilet toe gegaan.”
”Wil jy gaan kyk waar sy is?”
”Kan ek?”
”Maak net gou, ons moet aan gaan.”
”Yes Thys.” antwoord Yster sy foon en staan weg van die groep af.
”Ons het haar.”
”Waar is sy?”
”Oefen terrein, soos jy gevra het.”
”Het jy haar vasgemaak?”
”Ja, maar sy het seergekry.”
”Julle het haar seergemaak?”
”Nee, ons het haar so gekry.”
”Het sy gesê wat gebeur het?”
”Nee, maar sy het baie te sê gehad oor jou.”
”Soos wat?”
”Sy dink jy is ‘n bliksem wat nie weet wanneer om op te hou nie en hulle is nie in die Army nie.”
”Sy het vir my gesê.”
”En glo is ek net so groot dinosaurus soos jy?” en Thys lag weer.
”Ek dink sy like my stukkend.”
”Dankie Thys, ek sal die ding self verder hanteer.”
”Hoekom wil jy slegte maatjies maak met so bokkie?”
”Wat bedoel jy?”
”Ons weet van haar, die manne praat partykeer oor haar.”
”Ek het verlede jaar ses maande saam met julle geoperate en niemand het van haar gepraat nie.”
”Dis omdat jy nie saam skinder nie, maar almal weet van haar.”
”Wat weet julle?”
”Dat sy niks gee nie, haar beentjies word vir niemand oopgemaak nie.”
”Dis wat julle van haar weet?”
”Ja, baie manne het al probeer maar sy gee niks nie. En volgens wat ek nou net gesien het is sy vol lewe.”
”Watse lewe?”
”Sy het my vol blou kolle gemoer.”
”Sy het?”
”Skop en slaan soos ‘n wille ding.”
”Jy sal oorleef. Het jy haar foon gevat?”
”Sy het dit nie by haar nie.”
”Is jy seker?”
”Ja, ek is.”
”Goed Thys, dankie.”
”Ek dink nie jy hoef te worry oor Henk Greyling nie, die bokkie gaan self vir jou op jou moer gee.”
”Ek sal Greyling dop hou.”
”Jisses, my maat. Wat gaan jy maak as haar maatjies jou aan vat?”
”Ek vertrou sy sal hulle almal kan beheer.”
”Sy?”
”Ja, ek sien elke dag hoe sy dit doen. Hulle sal enige ding doen om haar gelukkig te hou.”
”Iemand al vir jou gesê jy speel ‘n dangerous game?” vra Thys en Yster glimlag groot.
”Waar is julle?”
”Op ons plek. Laat maar weet as die manne aan jou wil tik.” hy druk sy foon terug in sy sak en stap weer na die groep toe.
Henk kom later weer aangestap en Yster kyk vraend na hom.
”Het jy haar gekry?”
”Nee, Majoor. Sy is nie daar nie.”
”Het jy ingegaan?” en hy knik.
”Sy is nie daar nie.”
”Waar het jy gekyk?”
”Ek dink ons moet net vir ‘n rukkie wag sy sal nou hier wees.”
”Almal moet nou vir haar wag?” vra Lood wat staan en luister.
”Ek is seker sy sal nou hier wees.”
”Hoe lank wag ek?” vra Yster.
”Tien minute?” en hy knik.
”Het jy haar gebel?” vra Lood en hy knik.
”Haar foon was in die patrolliemotor.” en hy wys vir hulle haar foon is nou is sy sak.
”Dit help nou fokkol.” sê Lood en Henk knik en lyk bekommerd.
”Tien minute Greyling.” sê Yster en Henk kyk ook op sy horlosie.
”Ek weet nie waar sy kan wees nie.” en nou klink hy regtig bekommerd.
”Ek sal weer in die toilet gaan kyk.”
Toe hy weer terug kom lyk hy baie ontsteld.
”Wat het gebeur?” vra Lood en kyk ondersoekend na Henk.
”Twee beamptes het vir haar gewag toe sy klaar was.” en almal kyk verbaas na hom.
”Van ons ouens?” vra Christo en Henk skud sy kop.
”Almal is hier.”
”Waar kry jy jou inligting?” vra Frik.
”’n Werker het gesien toe hulle met haar gepraat het.”
”Waar is hulle nou?” vra Willem.
”Hy het nie gesien waarheen hulle gegaan het nie.” en Willem frons.
”Dink jy ons kan gaan kyk?” vra Henk en kyk met bekommerde oë na Willem.
”Waar was jy oral?” vra Lourens nou ook bekommerd en dan kyk Willem ernstig na Yster.
”Het ons toestemming om na haar te gaan soek, Majoor?” en Yster knik.
Die groep kom staan om Willem en dan kyk hy agterdogtig na Yster wat ook nader staan.
”Fish! Wat gaan ons doen?” jaag Henk hom aan.
”Ons sal met ‘n plan moet werk, dis ‘n groot terrein.” en die hele groep staan stil nader.
Willem Visser neem dadelik leiding en met behulp van ‘n kaart op sy foon word die perseel vinnig in sektore verdeel en Henk word terug gestuur om weer met die ooggetuie te gaan praat vir ‘n beter beskrywing van die beamptes wat vroeër saam met haar opgemerk is.
Die res van die span word in groepe gestuur om die perseel te voet te ondersoek.
”Majoor!”
”Yes Fish.”
”Ek en jy gaan hierdie sektor deursoek.” hy knik en vir ‘n oomblik kyk Willem weer agterdogtig na hom.
”Dit sal nie jy wees nie, sal dit?” en hy lig sy wenkbroue.
”Hoekom sal dit ek wees?”
”Om ons te laat saam werk soos ons geoefen het.” en Yster glimlag.
”Nee, dit was nie ek nie.” verseker hy hom en Willem hou aan om ondersoekend na hom te kyk.
”Daar is stories dat jy dit doen.”
”Motors saboteer?” en Willem knik.
”Maar ek het dit nie gedoen nie, het ek?” en Willem kyk nog steeds ondersoekend na hom.
”Kom ons gaan kyk, ons mors tyd.” stel Yster voor en saam stap hulle na die sektor soos Willem bepaal het.
”Fish!” roep Henk na hulle.
”Yes.” en hulle gaan staan en wag vir hom
”Die werkers is almal vroeg huis toe, dis Vrydag.”
”Is jy oraait?” vra Willem en kyk ondersoekend na hom.
”Ek gaan haar fokken nek omdraai as ons haar kry.”
”Ons sal haar kry, moenie worry nie.”
”Ek fokken hoop so. Sy maak nou net onnodig kak vir almal.”
”Daar is nêrens iemand anders wat iets gesien het nie?” maak Willem seker en Henk skud sy kop.
Die manne kom nou van oral aangestap en kom staan in ‘n groep.
”Niks nie.” en dan staan Yster nader.
”Ons het nou net ‘n noodsein ontvang wat bevestig dat sy wel ontvoer is en dat daar ‘n afkoop
bedrag geeis word.
”Haar gesin het ons gekontak en al wat ons weet is waar sy die laaste keer haar foon gebruik het.” dan besef die manne wat gebeur en hulle kyk almal verbaas na Yster.
”Die spesialiste is nie beskikbaar nie en ons is ingelig dat daar net twee ure is om die bedrag uit te betaal of sy word geskiet. Waar begin ons?”
”Waar is haar foon?” vra Christo dadelik.
”Hier.” en Henk wys hulle dis in sy sak. ”Sy het dit nie by haar nie.”
”Dan moet sy nog op die perseel wees.”
”Maar ons het klaar oral gekyk.”
”Wat het die ooggetuie gesê?”
”Hulle is klaar huis toe.”
”Nee, die eerste keer.”
”Nie veel nie, net dat sy saam met twee ander beamptes opgemerk is.”
”Is dit jou manne?” vra Willem en Yster knik. ”Is sy nog hier?”
”Ja, sy is.”
”Tot hoe laat het ons?”
”Vier uur, maar dan is die verkeer al heeltemal kak. As julle dit vinniger kan hanteer kan ons almal ry en huis toe gaan.”
”Ons werk volgens die plan soos hy bespreek het, ons kyk of dit werk.” stel Christo voor.
”Is sy veilig?” vra Henk baie vyandig en Yster kyk in sy oë.
”Ek weet nie, ons word gedreig met haar lewe.”
”Wees net kalm, Greyling.” praat Christo kalm met hom.
”Hy sal haar seker nie iewers ophang of iets nie.”
”Wat gaan jy doen?” vra Henk weer en Yster glimlag rustig.
”Kyk hoe julle die opdrag uitvoer.”
”Jy help nie?” en hy skud sy kop.
”Die enigste plek wat oor is, is die oefen terrein.” stel Christo voor nadat hulle weer die gebou
deursoek het.
”Hoekom sal sy daar wees?” vra Lourens.
”Omdat hy wil hê ons moet gebruik wat ons nou al die hele week geoefen het.”
”Kom ons gaan kyk.” stel Henk dadelik voor.
”Whoa.” keer Willem vinnig.
”Ons verdeel in groepe, ons betree die gebou van al die kante af.” en die manne knik instemmend.
”Ons bly in ons groepe.” en vinnig beweeg die span na die oefen terrein.
Vinnig word verskillende ingange aangewys en die manne beweeg vinnig na binne.
”Ek het ‘n staaldeur gesien heel bo.” praat Henk en Willem knik.
”Ek het ook gesien.” en dan klim hulle vinnig met die trappies tot bo.
”Daar.” en hulle staan nader.
”Daar was nie netnou ‘n slot aan nie. Was daar?”
”Ek het nie gekyk nie.”
”Dan is dit hier.” en Henk staan dadelik nader en klop hard.
”Storm!” en altwee luister maar daar is nie ‘n geluid nie.
”Storm, is jy hier?” en weer hoor hulle niks nie.
”Ons moet die slot af haal.” stel Willem voor.
”Dis ‘n moerse ding.”
”Gaan kry vir ons ‘n klip of ‘n ding.” toe Henk met die trap af hardloop is daar ‘n gesluite deur.
”Ag fok! Die bliksem!” skree hy na Willem.
”Wat nou?”
”Hy het die fokken deur toegesluit, ek kan nie uitkom nie.”
”Hy gaan ons dwing om haar deur die venster te laat sak soos ons geoefen het.”
”Maar die deur is nog toe.”
Henk kyk deur een van die vensters en sien die patrolliemotors staan.
”Waar het jy die toue gaan bêre?”
”Dis agter op sy bakkie.”
”Fokken nice. Hoe kom ons daar?”
”Ons doen dit soos ons geoefen het.” en Willem gaan klim vinnig by die venster uit waar Yster hulle laat oefen het om reg te val.
”Ek is nou hier.” en Henk staan en kyk hoe hy rats uitspring en op sy voete land.
Hy staan en kyk hoe hy vinnig die tou agter op sy bakkie vat en ‘n baksteen op pad terug op tel.
”Slaan solank die slot af.” stel Willem voor en gee vir hom die baksteen aan, toe die deur oop is gaan Henk vinnig in.
”Storm?” en die vertrek is leeg. ”Sy is nie hier nie.”
”Is hier nog iewers ‘n deur?”
”Moet wees, maar waar?”
”Ons moet net kyk.” in die proses om te soek na nog ‘n deur sien hulle hoe die ander manne ook inkom.
”Het julle al iets gekry?” vra Christo en Willem skud sy kop. ”Waarna soek ons?”
”’n Deur.”
”Daar is een bo.”
”Dis leeg, ons was nou net daar.”
”Daar is nog een onder die trap, het julle daar gekyk?” vra Christo en Willem kyk verbaas na hom.
”Kom ons gaan kyk.” voor die deur gaan staan Henk weer en haal diep asem.
”Ek gaan hom opfok.” en toe hy ingaan sien hulle net rakke.
”Is sy daar?”
”Nee, ek sien haar nie.” dan hoor hulle hoe iets hard omval.
Henk storm om die naaste rak en dan hoor hulle hom.
”Is jy oraait?” en dan is almal daar.
Vinnig ruk hy die sak af en dan sien hy die kleefband.
”Die fokken vark.” en baie versigtig haal hy dit vir haar af.
”Wie was dit?” vra hy dadelik en sy wys vir hom om die kabel af te haal.
”Henk! Maak my los.” en toe kyk hy paniekerig na Willem.
”Waarmee haal mens so ding af?” en dan gee Christo vir hom ‘n knipmes aan.
”Is jy oraait?” vra Henk weer toe sy styf opstaan.
”Ek is oraait.” en sy vryf aan haar gewrigte. ”Wat gebeur nou?”
”Hy wil hê ons moet al sy trieks gebruik.” antwoord Willem.
”Die bliksem het van die deure gesluit.” praat Henk saam.
”Het julle die tou?” vra sy en Willem knik. ”Hoe lank nog?”
”Nog so paar minute.”
”Bring die tou, ek moet dringend toilet toe gaan.” stel sy voor en vir ‘n oomblik glimlag almal saam met haar voor Willem die tou om haar middel vas bind en haar versigtig na onder sak.
”Goed.” sê Yster toe die hele span saam voor hom kom staan.
Hy kyk vir Aryna maar sy het alles toegemaak agter haar oë, hy kan niks sien nie.
Sy wys geen emosie nie.
”Nie sleg nie. Julle het nog ‘n paar minute.” en Henk kyk baie vyandig na hom.
”Greyling, wat jy nou net ervaar het ervaar die families partykeer vir dae.
”Sulke oortredings gebeur, baie meer as waarvan ons weet.” en dan kyk hy weer na Aryna.
”Kaptein Storm, is hy reg?” vra hy en sy kyk hom in die oë.
”Ja, Majoor. Ek is reg.”
”Het jy seergekry?”
”Nee, ek het nie.” en hy frons maar sy kyk net vir hom.
”Goed dan, ek kry julle in die klaskamer.”
”Fish, versorg weer my toue.”
Toe hy omdraai wag Willem vir hom met die tou in sy hand.
”Yes Fish, hoe lyk’it?”
”Jy het vir my gelieg.” kla hy hom aan.
”Ek het.”
”Jy het ook vir Greyling mislei.”
”Ek het die hele span mislei, maar dis deel van opleiding.”
”Wat is die doel?”
”Om te doen wat geoefen word.”
”Jy gaan dit oefen noem?”
”Nee, ek noem dit span bou. Julle weet nou wat ons geoefen het werk,”
”Ons werk al almal vir jare saam, ons weet hoe ‘n span werk.”
”Nie almal nie.”
”Ja, almal van ons.” en Yster glimlag.
”Hoe gaan dit met haar? Het sy iets gesê.”
”Ek dink nie jy moet dit sommer weer probeer nie.”
”Thys de Vries het gesê sy het seer gekry.”
”As sy het sal sy net vir Greyling vertel.”
”Sal hy my laat weet?”
”Nie vandag nie.”
”En as sy hulp nodig het?”
”Dan gaan jy die laaste man wees wat gaan hoor.”
”Praat met Greyling, ek is verantwoordelik vir beserings tydens opleiding.”
”Jy moes daaraan gedink het.” en hy knik.
”Ek stel voor jy laat die manne huis toe gaan.
”Gemoedere is effens teen jou op die oomblik.
”Sy is kleiner as almal van ons.”
”Dit was die idee.” en Willem frons.
”Sy sal altyd die target wees omdat sy die kleinste een is.” en Yster glimlag.
”En ek kan effens hanteer.” en Willem kyk weer ongelowig na hom.
”Fok! Jy hou nie terug nie.”
”Nee, ek hou nooit terug nie. Mense gaan dood as ek terug hou.” en dan lag Willem skielik verlig.
”Ons kon nie wag om saam met jou te werk nie.” verras kyk Yster na hom.
”Ek dink die manne sal verstaan, maar jy sal met haar moet praat.”
”Sal sy met my praat?”
”Maak seker jy doen want sy sal almal teen jou opklits.” en Yster frons.
”Ek weet nie presies hoe sy dit doen nie, maar sy weet hoe dit werk.”
”Ek wil haar nie in my span hê nie.” sê Yster baie eerlik en Willem knik.
”Moet haar dan nie insluit nie, sy sal verstaan.”
”Wat van Greyling?”
”Hy sal dit oorleef.”
”Wat verstaan ek nie?” en Willem glimlag.
”Jy sal nog leer, daai twee kan soos kat en hond baklei en mekaar ordentlik sleg sê, maar hulle doen alles saam.
”Daar is baie min mense wat Aryna Storm vertrou, maar Henk Greyling is een van hulle.
”As jy dit onthou, sal jy baie goed verstaan.” en Yster frons.
”Hulle baklei maklik maar hulle vergewe ook maklik. Dit sal weer oorwaai.”
Dan kom Thys en Pietman aangestap en Henk frons.
”Wie was die beamptes wat jou kom haal het?” vra hy en sy knik net een keer.
Henk staan nader en kyk vir Thys in die oë.
”Wat de fok soek julle hier? Hoekom gaan speel julle nie liewers saam met julle eie maatjies in
Roodepoort nie?” en hy gaan staan baie naby aan Thys.
”Bedaar Greyling. Dit was my opdrag.” praat Yster toe hy ook nader staan.
”Fok Majoor, vir wat doen jy dit?” en Yster kyk ondersoekend na Aryna.
”Alles reg Kaptein?” vra hy en sy knik.
”Ons kan later daaroor praat, Greyling.” Yster stap saam met Thys en Pietman weg.
”Jisses, wie is die man wat so ongelukkig is?” vra Thys en kyk ernstig na Yster.
”Henk Greyling.”
”Fok, amper gryp hy vir my.” en hy klink verlig.
”Julle moet ry, ek moet gaan klaar maak.” sê Yster en Thys knik.
”Dankie vir julle hulp.” en hy gee sy hand vir Thys wat dit skud en glimlag.
”Jou kak is geboek, die bokkie gaan vir jou uitvreet voor jy weer huis toe gaan.” sê Thys en hulle kyk saam hoe die span kanidate om haar gaan staan en luister na wat sy vertel.
”Dankie, Pietman.” en hulle skud ook hand.
”Dis ‘n oulike bokkie.” sê Pietman met ‘n groot glimlag.
”Ek stem saam.” groet Yster.
”Genoeg vir ‘n uitvreet sessie?” en Yster knik.
”Ag my maat. Hoekom haar dan kies vir ontvoering?”
”Mens gaan altyd eerste vir die maklikste target.” en Pietman kyk simpatiek na hom.
”Voorspoed met jou nuwe span.” en dan stap hulle saam weg.

Published inBoek 2 HoofstukkeYster-Boek 2