Later toe hy by haar woonstel inkom met ‘n paar sakkies kry hy haar bleek op die bed.
”Is jy weer seer?” vra begaan en sy knik.
”Miskien is ek net honger.”
”Ek het pizza gebring.”
”Eet ons in die kombuis?”
”Ek kan vir jou hiernatoe bring.”
”Liewers nie in my bed nie.” en sy staan moeilik op.
”Hoekom nie?”
”Dis nie nodig nie.” en sy stap stadig kombuis toe.
”Wat is in die sakkies?” vra sy en frons.
”Jy het gesê jy moes gaan kos koop.”
”En toe?”
”Jy sal moet eet deur die week.” en sy kyk wat in die sakkies is.
Daar is eiers en brood rolletjies.
Kaas en pienk joghurt.
”As daar nog iets is sal ek vir jou gaan haal.”
”Baie dankie, dis nie nodig nie. Ek sal vir Henk vra.” en hy knik.
”Hy het netnou gesê hy sal kom kyk hoe dit met jou gaan.”
”Het hy weer met jou gepraat?” en hy knik.
”Hoekom bring jy so groot pizza?”
”Vir later ook.”
Hy maak die pizza oop en sy gaan staan teen die kombuiskas.
”Ons kan by jou tafel gaan sit.” stel hy voor en sy skud haar kop.
”Dis makliker so.” en saam eet hulle pizza soos verlede jaar, maar sy drink nie weer sy koeldrank wat hy saamgebring het nie.
”Kom jy is bleek.” praat hy met haar nadat hulle geëet het.
Sy stap agter hom aan en hy gee vir haar ‘n botteltjie aan.
”Waarvoor is dit?”
”Vir pyn.”
”Ek voel beter.”
”Gaan ons oor alles baklei?” en sy kyk net vir hom.
”Jy is weer bleek, drink dan kan jy weer gaan lê.” dan vat sy die botteltjie vies uit sy hand.
”Ek is nou oraait, jy kan huis toe gaan.” en hy wag tot sy een van die pille in haar mond steek.
Hy gee vir haar van sy koeldrank aan en sy sluk vinnig.
Dan gaan lê sy moeilik op die bed en hy sien dit moet weer seer wees.
”Is dit net inspuitings wat jou vang?” en sy knik.
”Is dit ‘n allergiese reaksie?”
”Ek dink nie so nie, dit gebeur net vir ‘n kort rukkie dan is ek weer reg.”
”Slaap, ek het my rekenaar gaan haal.” sy knik en lê terug teen die kussing terwyl hy sy rekenaar en ‘n oornagsak in sy bakkie gaan haal.
”Hoekom antwoord jy toe nie vir Neil oor Oom Siener van Niekerk nie?” vra sy toe hy weer by haar kom sit.
Vir ‘n oomblik praat hy nie.
Dan sit hy terug in die stoel en sy kan sien dis vir hom ‘n ernstige saak.
”Jy het al die ander vrae geantwoord.”
”Omdat ek dink dis nog een van die baie dinge wat ons almal verkeerd hanteer.”
”Wie is ons?”
”Ons Afrikaners.”
”Hoekom?”
”Want daar is al so baie boeke geskryf wat probeer verduidelik maar niemand weet wat hy regtig bedoel het nie.”
”Ek het al Engelse programme gesien wat sy visioene bespreek het.”
”Ek ook, dis hoekom ek nie daaroor praat nie.”
”Jy antwoord nie die vraag nie.”
”My Oupa Ben het nog een van die oorspronklike boeke gehad en hy het nie alles verduidelik soos ons dit nou bespreek nie.”
”Hy het nie?” en hy skud sy kop.
”Hy was ‘n gelowige man wat net Bybel gelees het, en ek dink om te verstaan wat hy gesien het moet jy dit altyd onthou. En min mense lees nog so Bybel.”
”Het jou Oupa?” en hy skud sy kop.
”Ouma het.”
”Het sy alles verstaan?”
”Ek weet nie.”
”Het iemand nog die oorspronklike goed?”
”Volgens my inligting word sy dogter se boeke by die Lydenburg museum bewaar.”
”O ja, sy het alles opgeskryf.”
”Tannie Anna Badenhorst.”
”Glo jy wat hy gesê het?”
”Ek weet nie, miskien.”
”Wie is die staat se kerk?” vra hy en gaan sit weer op die groot stoel.
”Die ding wat jy verduidelik het oor die familie bendes?” vra sy en hy knik.
”Frik hulle dink dit werk so vir die wêreld se elites ook?” en hy knik weer.
”Dink jy dit sal so werk in kerke ook?” en hy frons.
”Ons het elke Sondag saam kerk toe gegaan toe ek nog klein was.” en hy luister aandagtig.
”Maar dinge het baie verander. Ek was nog nie gebore toe apartheid verkeerd geword het nie maar my Pa het baie daaroor gepraat.
”Hy het altyd gesê dit was net die eerste ding wat verander sal moet word, en hy was reg.” en Yster frons maar luister geduldig.
”Baie dinge wat altyd verkeerd was is nou reg.
”Nou gaan ek net saam met my Ma kerk toe as die ouderlinge bel en vra waar sy is.”
”Sy gaan ook nie meer gereeld nie?” en sy skud haar kop.
”Was jou Pa ouderling?”
”Ja, hy was. Na sy dood het my Ma gekies om nie meer betrokke te wees nie.”
”Enige spesifieke rede?” en vir ‘n rukkie antwoord sy nie.
”My Oupa Storm was maar ‘n moeilike man as dit by Bybel lees gekom het.”
”Hoekom?”
”Omdat hy lank gelede in Nederland moes gaan bly om teologie te gaan studeer om hier predikant te wees.
”Maar daar het allerhande dinge gebeur en hy het glo terug gekom en nooit weer kerk toe gegaan nie.” hy kyk verbaas na haar.
”Wat het gebeur?”
”Hy het glo na sy oorspronklike stam familie gaan soek en volgens wat my Pa altyd vertel het, as dit nie vir sy vrou was nie het hy ‘n heiden geword.”
”Heiden?” en sy knik.
”Sy het saam met hom alles verwerk wat hy daar gehoor het, en hy het toe gaan skool hou.”
”Soos jou Pa?”
”Ja, hy en my Ma het mekaar op onderwys college ontmoet. Hulle is daar getroud en hulle het later saam skool gehou.”
”Hoekom het jy dit nie ook gedoen nie?”
”Omdat ek weet hoe dinge aanhou verander.
”My Ma kan vir ure aangaan oor hoe die hele stelsel besig is om uit mekaar te val en dat dit eintlik ‘n goeie ding is want dan sal iemand dalk ‘n plan maak.”
”Wat het hy in Nederland gehoor wat hom so ontstel het? Iets van sy familie of die studies?”
”Allerhande goed.” en dan gee sy ‘n groot gaap. ”O, sorrie.” sê sy agter haar hand. En dan kyk sy aandagtig na hom.
”Wat?” wil hy weet.
”Ek weet nie hoekom ek jou dit vertel het nie.”
”Ek mag nie weet nie?”
”Ek wil net nie hê jy moet dink ons gaan maatjies wees nie.” en hy kyk verras na haar.
”Ons gaan nie?”
”Nee, ons gaan nie.”
”Hoekom nie?”
”Gaan jy my in jou span sit?”
”Nee, ek gaan nie.”
”Dis hoekom nie.”
”Jy het gesien hoe lyk die stad, jy het die wapens gesien wat op die strate is.
”Jy was by die hospitaal om te gaan kyk hoe die verslaafdes lyk wat op straat is.
”Dis nie ‘n plek vir vroumense nie.”
”Daar is vroulike beamptes in die Hillbrow Stasie.”
”Hulle doen nie wat daagliks van ons verwag sal word nie.” probeer hy haar oortuig.
”Dis hoekom my eenheid hier ontplooi word.”
”Hoekom het jy verlede jaar hier by my kom bly?”
”Omdat William Taite mense dood maak.”
”En dis al?”
”Van sy samelopers is hier opgemerk.”
”Hier by my woonstel?”
”Ja, hier by jou woonstel.”
”Wat het hulle hier gemaak?”
”Ek het aanvanklik gedink dit was hulle wat jou motor gemerk het.”
”En nou?”
”Ek weet nie want dit was Serfontein wat by jou woonstel laat inbreek het.”
”So hulle was maar net hier?” en hy knik.
”Sien jy, daar is oral oortreders, nie net in die stad nie.”
”Hulle was nie die soort oortreders wat in die stad is nie.”
”Nee, hulle is meer uitgeslape. Oortreders in die stad het nie al die tegniese hulp wat hulle het nie.”
”Ek gaan van jou verskil.”
”Dink jy ek is verkeerd?”
”Ja, jy is verkeerd. Selfone is oral beskikbaar, en as jy dink dit word nie deur oortreders in die stad gebruik nie is jy naief.” en hy haal diep asem.
”Dit is die goedkoopste manier van kommunikasie en almal kan dit aanskaf.”
”Jy word gesien as een van die bestes wat daar is.”
”Ek wil jou nie in my span hê nie.”
”Ek kan baie by jou leer.”
”Jy gaan nie in my span wees nie.”
”En jy dink regtig ek wil in jou span wees terwyl jy my nie daar wil hê nie?” hy frons en kyk
agterdogtig na haar.
”Wat sê jy?”
”Hoekom sal ek dit wil doen as jy dit elke dag sal moeilik maak?” en hy frons.
”Jy het van die begin af geweet ek stel nie vroumense aan nie.”
”Ronel Basson het …”
”Hoekom het jy toegelaat dat sy jou ompraat?”
”Omdat ek Leon vertrou.”
”Wat het hy vir jou gesê”
”Dat Yster van Jaarsveld nie so moeilik is soos almal sê nie en dat jy goeie opleiding doen.”
”Dit gaan nie oor moeilik wees nie, dit gaan oor veilig wees.” en nou frons sy ook.
”Almal se werk word gevaarliker, ons verstaan dit almal.
”Maar van die grootste probleme wat daagliks hanteer moet word is beamptes wat nie vertrou kan word nie.
”Ons kan saam met sulke korrupte uniforms uitgaan op patrollie en nie weet wat kan gebeur nie.
”My hele span kan uitverkoop word aan bendes en niemand sal eers vra wat gebeur het nie want dis wat nou elke dag gebeur.”
”Dis hoekom jy self keuring en opldeiding doen?” en hy knik.
”Ek troos myself dat ek genoeg mense kennis het om te kan sien wie ek kan vertrou.”
”Hoekom troos?”
”Omdat ek verkeerd kan wees.
”Korrupte beamptes is oral, hulle motivering is geld en mag wat hulle kan kry saam met skelm
politici wat vir almal lieg.
”Die toename van vuurwapens op straat is kommerwekkend.
”Wanneer dit in die hande van bendelede beland is niemand veilig nie. Veral nie as jy uniform dra nie.”
”Hoekom het dit so groot probleem geword?”
”Omdat hulle almal saam werk, daar moet iewers ‘n sindikaat wees wat alles goedkeur en beheer.”
”Khumalo is reg?” en hy knik. ”Maar almal wil saam met jou werk.”
”Omdat ek bereid is om ‘n man aan sy voete uit te sleep as dinge buite beheer raak.”
”Ek het ook voete.”
”Fok, Storm! Ek wil jou nie in my span hê nie.
”Hoekom luister jy nie vir my nie? Jy sal altyd in gevaar wees omdat jy nie sterk genoeg is nie.” en dan kyk sy vreemd na hom.
”Verstaan jy nie hoe maklik dit was nie?
”Ek het twee manne na jou toe gestuur en hulle kon jou net saam sleep. Jy is te klein.”
”Dit was jou idee om my te wys wat kan gebeur?” en hy knik.
”Wanneer jy alleen is is jy in gevaar.” en hy maak sy oë vir ‘n rukkie toe.
”Oukei.” sê sy sag.
”Oukei wat?” vra hy en kyk na haar.
”Ek verstaan.”
”Wat verstaan jy?”
”Jy gaan my nie in jou span opneem nie.” vir ‘n oomblik is hy so verlig dat hy net sy kop skud.
”En ons gaan nie weer daaroor baklei nie?” en sy skud haar kop. ”Is jy seker?”
”As ons nie saam gaan werk nie gaan ons mekaar nie sien nie, waaroor sal ons dan baklei?” en hy frons.
”Ons gaan nie maatjies wees nie, Majoor. Ek het netnou al vir jou gesê.”
”Hoekom nie?”
”Omdat jy nie gaan tyd hê nie.”
”Daar sal tyd wees.” en sy skud haar kop.
”Wat gaan jy vir Ronel Basson sê?”
”Ek sal dit hanteer.”
”Wees maar versigtig, sy kry baie dinge reg met haar vriendelike glimlag.”
”Vertel my van die reptiele.” en sy glimlag effens,
”Jy het gesê jy dink dis waar?” vra hy.
”Hoekom dink jy is daar niemand wat vir die wêreld omgee nie?
”Daar is altyd iewers een of ander maniak wat dink dit sal ‘n slim plan wees om alles net op te
bom.” en hy luister aandagtig na haar.
”Oupa het altyd gesê… ” en voor sy verder kan gesels is daar ‘n klop by die voordeur.
”Dis seker Henk.” Yster staan op en stap deur toe.
”Yes Greyling.” groet hy terwyl hy die hek oopsluit.
”Hoekom is jy nog hier?” vra hy dadelik stuurs.
”Hallo Henk!” roep Aryna uit haar kamer.
Henk stap nader en gaan staan vir haar en kyk in die deur.
”Hoe gaan dit met jou?”
”Ek is oraait.”
”Hoekom is hy nog hier?” vra hy en wys net sy vinger oor sy skouer.
”Mag hy nie wees nie?”
”Dis sy skuld dat jy so lyk.”
”Nee, dit is nie. Ek het geval en seer gekry.”
”En toe help hy jou nie betyds nie.”
”Omdat ek hom nie wou sê nie.”
”Gaan jy hom nou die hele tyd verdedig?”
”Hoekom hou jy aan om hom so aan te val?”
”Omdat hy jou in ‘n stoor laat toe sluit het.”
”Ons het dit bespreek.”
”Wie?”
”Ons.” en sy wys na Yster.
”En nou gaan jy hom sommer net vergewe?”
”Dit was deel van opleiding en ek het niks oor gekom nie.” en hy kyk weer vyandig na Yster.
”Jy is reg, ek moes beter gekyk het.” sê Yster en Henk kyk in sy donker oë.
”En die kak move met die ontvoering?”
”Dis deel van opleiding.”
”Jy gaan nie om verskoning vra nie?” en hy skud sy kop.
”Ek wou ‘n punt maak.”
”Watse fokken punt?”
”Dat sy altyd in gevaar sal wees.” en Henk kyk fronsend na hom.
”En niemand sal haar kan help as sy alleen in die stad is nie.”
”Maar dit was jou Wes-rand manne wat haar gaan haal het onder opdrag.”
”En jy dink gansters kan nie ook sulke planne maak nie?”
”Maar ons is ‘n span.” en Yster skud sy kop.
”Sy kan nie altyd opgepas word nie.”
”Wat gaan jy doen?”
”Sy word nie deel van die span nie.” en Henk kyk verbaas na Aryna.
”En jy is oraait daarmee?” en sy knik.
”Hy het met my gepraat.” antwoord sy eerlik en Henk kyk net na haar.
”Het hy jou omgepraat?”
”Nee, ek het gister self besluit ek wil dit nie doen nie.” en altwee kyk verbaas na haar.
”Maar jy kan alles doen net soos ons.
”Daar is goed wat jy beter doen as ons.
”Jy is vinnig en jy is nie bang nie, is jy seker hy het jou nie omgepraat nie?” en sy trek net haar oë.
”Hy is reg, ek is nie sterk genoeg nie.” en Henk lyk nie gelukkig nie.
”Wat gaan jy dan doen?”
”Ek gaan terug gewone Diens toe, ek doen my werk en help as daar gehelp moet word en ek gaan aan met my lewe.”
”En Ronel Basson?”
”Ek sal dit hanteer.” antwoord Yster en Henk kyk weer na hom.
”Dan was ek verkeerd.” erken hy en kyk na Aryna.
”Waaroor?” vra sy.
”Ek het gedink jy sal die eerste vrou in sy eenheid wees.”
”Hoekom?”
”Omdat ek dink Ronel Basson weet presies hoe om kry wat sy wil hê.”
”Nie hierdie keer nie, ek het die laaste sê.” verskil Yster van hom en en dan gaan sit Henk by haar op die bed en Yster bly in die deur staan.
”Minnaar sê julle het vanoggend ‘n highjacker gearresteer?” en sy knik.
”Wat het gebeur?” en Yster staan en kyk hoe hulle saam gesels oor wat by die sentrum gebeur het.
Ek is reg, jy sal almal kan bestuur.
Is dit iets wat ek wil verloor?
Jy kry dit vinnig reg omdat jy net redelik bly.
Jy gaan nie in my span wees nie.
Is jy reg, ons gaan mekaar dan nie sien nie?
Jy sal my baie kan help met ander goed ook.
Sal jy my admin doen as ek vra?
Ek sal nie nog ‘n lid net kan aanstel nie.
Hy staan en kyk hoe hulle saam gesels en dan gaap sy weer groot.
”O sorrie.” praat sy agter haar hand. ”Seker die medisyne.”
”Watse medisyne?” vra Henk dadelik.
”Een of ander pyn pil.”
”Het jy seer?”
”Nee, ek dink net ek moet vir ‘n rukkie slaap.”
”Moet ek by jou bly?”
”Dis nie nodig nie.”
”Maar hy is nog die heeltyd hier.”
”Moenie met my baklei nie, jy het hom hierheen gestuur.”
”Maar ek het nie gedink hy sal net hier bly nie.”
”Gaan huis toe, ek wil slaap.”
”En hy?”
”Ek sal nog ‘n rukkie bly.” antwoord Yster namens haar.
”Hoekom mag hy bly en nie ek nie?” vra Henk weer dadelik vyandig.
”Ek gaan nie met jou daaroor baklei nie, doen wat jy wil.” en sy staan moeilik op.
”Waarheen gaan jy?” vra hy begaan en probeer help.
”Ek gaan badkamer toe en dan gaan ek kom slaap.” toe die badkamer se deur toe gaan kyk Henk ernstig vir Yster.
”Wat beteken sy sal altyd in gevaar wees?” vra Henk.
”Sy sal altyd ‘n target wees.”
”Hoekom?”
”Omdat sy klein is.”
”Altyd?” vra hy ernstig en Yster knik.
”Dan is dit seker beter dat sy by gewone Diens bly?”
”Ek dink so.” Henk stap by die kamer uit en gaan staan vir ‘n oomblik voor die badkamer deur.
”Sien jou weer Maandag, ek gaan ry.”
”Stuur groete vir Ousus.” en dan stap Yster saam met hom na buite.
”Is alles nou reg?” vra Yster en kyk ondersoekend na Henk.
”Ja, Majoor. Ek hou net nie daarvan dat daar altyd advantage gevat word van haar nie.”
”Dis nie wat ek gedoen het nie.” en dan steek Henk sy hand uit en Yster vat dit vas.
”Ek hoop ek maak jou span?”
”Ja, jy sal.”
”Dankie, ek sou nie geweet het om haar hospitaal toe te vat nie.”
”Dis reg, Greyling.” dan sien hulle vir tannie Patty nader kom.
”Ek gaan ry, daai ou girl like my fokkol.” hy lig sy hand vinnig as groet en stap dadelik na sy eie
motor.
”Hy gaan nie bly nie?” vra Patty en kyk hoe Henk in sy motor klim.
”Nee, hy gaan nie.” antwoord Yster en glimlag effens.
”Hoe gaan dit met haar?”
”Sy lyk beter.”
”Weet Rina al?”
”Sy sal met haar praat.”
”Wat het jy gesê is jou naam, Yster van Jaarsveld?” en hy knik. ”En jou rang?”
”Majoor.”
”En julle gaan nou saam werk?” en hy knik.
”Was jy die neef?” vra sy uit die bloute en Yster kyk verbaas na haar.
”Ek het so gedink.” en hy glimlag effens verleë.
”Ek moet gaan kos maak. Totsiens Majoor.”
”Totsiens Patty.” toe hy terug stap na haar slaapkamer lê sy en slaap.
Hardekop!
Vir wat moes jy toe nou eers die hele opleiding deursien voor jy opgee?
Hy kry sy rekenaar en gaan sit weer op die groot stoel waar hy kan seker maak sy slaap.
Aryna Storm, sewe en twintig jaar oud.
Afrikaans.
Ongetroud, geen afhanklikes nie.
Bo gemiddelde skiet scores.
Jy behoort nou vir Greyling te wen.
Beste vroue motorbestuurder wat ek nog gesien het.
Jy speel al die manne in die span omdat dit maklik is om jou gelukkig te hou.
Fokken hardekop.
Ek weet nie wanneer om op te hou nie?
Jy ook nie.
Ek moet versigtig wees, jy gaan my hele lewe oorneem en dan gaan die span tweede kom.
Ek kan dit vir die oomblik nie toe laat nie.
Later lui haar foon weer en toe hy opstaan om dit te antwoord maak sy haar oë oop.
”Wie is dit?” vra sy deur die slaap.
”Mandy Gouws.” lees hy die skerm en sy steek haar hand uit.
”Hallo Mandy.” groet sy en hy gaan weer sit.
”En toe ontvoer die dinosaur jou sowaar!”
”Ja, hy het.”
”Ek het vir jou gesê dis wat ek gehoor het.”
”Mmmm, dit was.”
”En jy was weer in die hospitaal?”
”Ja, net vanoggend vir ‘n rukkie.”
”Wat het gebeur?”
”Ek het my dinges af geval en my ribbetjies gekneus.”
”Met die ontvoering?”
”Nee, voor die tyd.”
”En toe het hy jou self hospitaal toe gevat?”
”Ja, hy het.”
”En toe vang julle ‘n highjacker op pad terug?”
”Met wie praat jy?”
”Met Leon. Hy het my gevra om seker te maak jou papiere vir Polmed is reg by die hospitaal.”
”O, ja, ons het seker die highjacker gevang.”
”Seker? Hoekom weet jy nie?”
”Want ek het flou geword voor ek kon sien wat gebeur.” en Yster sit en luister hoe sy weer die hele storie vir haar vriendin vertel.
Thys is reg, nuus versprei vinnig hier in Gauteng.
Mandy Gouws maak darem eers seker wat gebeur het voor die ding verder oorvertel word.
”Wanneer gaan jy huis toe?” vra sy later die middag in die kombuis, hulle het saam die laaste pizza geëet en haar koeldrank gedeel.
”More.” en sy kyk met groot oë na hom.
”Hoekom eers more?”
”Omdat ek moet seker maak jy loop nie in die donker rond en doen allerhande onheilige dinge
wanneer niemand kyk nie.”
”Ek loop nie in die donker rond nie.”
”Ek moes verduidelik hoe jy die wapens in ‘n staats pakhuis kon skuif sonder dat ek daarvan geweet het. Ek het op daardie stadium saam met jou gebly.” en sy kyk met groot oë na hom.
”Regtig?” en hy knik. ”Ek het nie daaraan gedink nie. Wat het jy gesê?”
”Dat ek vermoed jy het iets in my koffie gegooi.” en sy kyk geskok na hom.
”Nee, jy het nie!”
”Ek kon natuurlik vir hulle sê dit was warm in jou bed, maar toe bedink ek myself.”
”Wat het jy vir hulle gesê?” dring sy aan en haar oë is groot en vol vrae.
”Dat ek volle verantwoordelik aanvaar vir wat gebeur het.” en sy lyk dadelik verlig.
”Dis nie nodig om so simpel te wees nie.” en hy glimlag.
”Kom, jy moet weer een van daai pille drink.”
”Dit laat my slaap.”
”Dis seker die idee.”
”Hoeveel is daar?”
”Nog drie.”
”As ek nou een drink is daar net nog twee?” en hy knik.
”Moet ek almal drink?” en hy skud sy kop.
”Drink dit as dit seer word.”
”Hoekom is William Taite Botswana toe?” vra sy terwyl sy weer op die bed gaan lê.
”Daar word vermoed dat hy iemand by ‘n diamantmyn ken wat hom uit gevlieg het.”
”Weet iemand waarheen?”
”Baie spekulasie, maar Interpol weet nie.”
”Wat weet jy van Interpol?”
”Hulle hoofkantoor is in Frankryk en daar is ‘n kantoor in Pretoria.”
”En die vrou wat nou die ding bestuur?”
”Daar is ‘n vrou wat dit nou doen?” en sy knik. ”Ek weet nie.”
”Jy gaan nie verduidelik hoekom ‘n vrou dit nie kan doen nie?”
”Nee, ek gaan nie want ek ken haar nie.” en sy kyk ondersoekend na hom.
”Hoekom vra jy my nie maar net nie?”
”Wat moet ek vra?”
”Ek weet nie, maar partykeer kyk jy net vir my.”
”Het jy verlede jaar vir die hospitaal gesê jy is Meneer Storm?” en dan glimlag hy groot.
”Ek moes.”
”Jy was bereid om Meneer Storm te wees om my te sien?” en hy knik.
”Ek versorg self my spanlede.”
”Maar ek was nie in jou span nie.”
”Ek het bevel oorgeneem.” vir ‘n oomblik kyk sy weer vir hom.
”Dankie dat jy my gehelp het. Ek was so bekommerd oor Cindy, en toe gaan dit goed met haar en hulle babie.”
”Ek hou ‘n rekening van alles.”
”Watse rekening?”
”Al die goedjies waarvoor jy my nog skuld.”
”Wat skuld ek nog vir jou?”
”Jy het my naam gat gemaak voor my maatjies.”
”En jy het my laat ontvoer en my toegesluit tussen die goggas.
”Ek het vir jou gesê ek is bang vir creepy crawlies en flymies. Ek skuld jou niks nie.”
”Dis nie hoe ‘n rekening werk nie.”
”Of course is dit hoe ‘n rekening werk.”
”Daar word afbetalings gemaak teen bestaande skuld, veral as daar aanhoudend skuld gemaak word.”
”Ek het alles klaar afbetaal.”
”Maak ek dan ‘n rekenig oop vir Mandy Gouws?”
”Wat het Mandy nou hiermee te doen?”
”Sy was jou informant.” en sy frons.
”Gaan jy vir my sê dit was nie sy nie?”
”Dit was heeltemal terloops, sy het nie ‘n donker duister plan gehad nie.” hy glimlag en knik effens.
”En Lukas Swanepoel?” sy trek net haar mondhoek.
”Seker het hy ook heel terloops die patrolliemotor vir jou omgeruil.” en sy rol haar oë.
”Wie het jou gesê?” wil sy weet en hy skud sy kop.
”Heelwat goedjies wat teen jou rekening gaan bly.”
”Jy is ‘n pyn in my dinges.” hy glimlag en kyk na haar.
Oulikste dinges waarin ek maar ‘n pyn kan wees.
”En jy kan jouself net nie help nie, jy wil weer hier by my kom bly.”
Dis die waarheid.
Ek wil vir altyd hier kom bly.
Elke aand saam met jou kom eet en na al jou stories luister.
Weer rus en lag.
Ek het dit lanklaas gedoen.
”Ek het by jou kom bly omdat jy saam met William Taite gesien is.”
”Mmmm, en hy maak mense dood.”
”Presies. En amper is jy een van die wat hy doodgemaak het.
”Vir wat skop jy toe die man se kierie uit sy hand uit?
”Nie jou beste oomblik nie, dit was uiters onverantwoordelik.”
”Jy gaan nie weer vir my preek nie, julle het hom verloor.”
”Nie ek nie, Koen de Waal.”
”Mmmm, jy is ‘n slegte spy. Ek sou baie beter gedoen het as jy.”
”Jy dink so?”
”Ek het jou uitgevang.”
”Lekker vol van jouself?” en sy kyk verontwaardig na hom.
”En jy dink jy gaan alles net verander.”
”Wat gaan ek verander?”
”Hoe kan jy al informante hê en jy het nog nie eers in jou kantoor ingetrek nie.”
”Ek het.” en sy kyk vraend na hom. ”In my kantoor ingetrek.”
”En wat nou van my Ma se pers dinosaur?”
”Ek het mos gesê, wen en gee dit vir haar terug.” en hy sien hoe haar oë swaar word.
Die medikasie is besig om te wen.
”Baklei jy altyd oor alles?”
”Ek baklei nie.”
”Wat doen jy dan?”
”Ek verskil van jou.” en hy lig sy wenkbroue geamuseerd.
”Jy het ‘n skoon rekord teen al jou spanne.”
”Dit kan enige tyd verander.”
”En jy ken die speelveld?” hy kyk vraend na haar.
”Jy verstaan wat aangaan in die binne en buiteland?”
”Ons weet net wat hule wil hê ons moet weet.”
”Wat beteken dit?”
”Dat daar mense is wat SAPS beheer en dis nie goed vir die land nie.”
”Sal dit eendag weer verander?”
”Die dag as dit gebeur het baie ander dinge al klaar verander.”
”Dink jy dit sal?”
”Ek weet nie.”
”Hoe oud is jy?” en hy lag sag .
”Ek is nie vyftig nie.” en sy glimlag lui. ”Agt en dertig.”
”Gaan jy een of ander tyd die land verlaat?” en hy kyk verbaas na haar.
”Nee, dis nie die plan nie.” en sy knik. ”En jy?” sy skud haar kop.
”Daar is nou ‘n groot wit squatterkamp in Alberton ook.”
”Ek het gehoor.”
”En daar is nou allerhande probleme in die dorp wat saam met hulle kom.”
”Daar sal wees.”
”Wat gaan van hulle almal word?”
”Jy is bekommerd daaroor?”
”My Ma is bekommerd oor die kinders wat daar bly.”
”Hoekom?”
”Omdat hulle sonder baie goed moet groot word en saam met baie ander goed wat nie nodig is nie.”
”Daar sal seker ‘n kerk wees wat dit versorg.”
”Kerke maak geld uit hulle.
”Op allerhande maniere, mens moet bang wees vir hulle.
”Veral die gawe vriendelike tannies wat in die pastorieë bly.”
”Ken jy sulke tannies?” sy knik.
”My Ma ook.”
”Is dit hoekom julle nie meer kerk toe gaan nie?”
”Dis een van die redes.” en hy hoor hoe sy rustig asemhaal.
”Ek gaan slaap.” en sy maak haar oë toe en skuif gemaklik voor hy haar diep hoor asem haal.
Lekker slaap Stormpie, word gou beter.
Die lewe moet aan gaan.
En ek is nou hier.
Wil Hannes die land verlaat?
Is dit waaroor jy bekommerd is?
Hoe kan enige iemand jou hier los vir ‘n nuwe lewe?
Enige reg denkende man sal jou saam vat.
Hy moet getroud wees as jy nie kan saam gaan nie.
My WordPress Blog
