Hy word die volgende oggend alleen wakker.
Hy het op die groot stoel aan die slaap geraak en later ongemaklik wakker geword.
Hy het gesien sy slaap en toe het hy sy Pa se horlosie afgehaal en saam met sy foon dit op haar
bedkassie neergesit.
Sy hemp uitgetrek en langs haar gaan lê en sy het nie beweeg nie.
Die horlosie op haar bedkassie het gewys dis net na twaalf en hy het versigtig onder die duvet
ingeklim en agter haar gaan lê.
Sy hand het oor haar lyf gegly en hy het die verband gevoel.
Jammer Kleinding, ek is jammer jy het seergekry.
Hy het diep aan haar geruik en haar saggies in haar hare gesoen.
Ek het na jou verlang.
En dan onverwags sit sy haar hand op syne en strengel haar vingers saam met syne.
Hy glimlag en raak rustig aan die slaap.
Nou is hy weer alleen in haar bed.
Dan hoor hy hoe sy die water in die badkamer gebruik en kombuis toe gaan.
Hy lê vir ‘n oomblik en wag vir haar maar sy gaan nie nou kom nie.
Hy staan op en kry haar in die kombuis waar sy by die ketel staan.
”More Stormpie.” groet hy en sy kyk met groot oë na hom.
Die behoefte om nader te staan en haar weer vas te hou is skielik so oorweldigend dat hy terug staan in die deur.
”More Majoor.” en hy frons want haar stem is versigtig.
Ek is nie meer Eben nie.
Is jy kwaad oor iets?
Omdat ek weer saam met jou geslaap het?
”Is jy nog seer?” vra hy en sy kyk na hom.
”Ek wou jou nie wakker maak nie.”
”Is jy nog seer?” vra hy weer en sy knik.
”Seker van die baie lê.”
”Hoe laat is dit?”
”Dis al amper sewe uur.” en hy frons.
Ek het lanklaas so lank geslaap.
”Gaan jy stort?” en sy skud haar kop. ”Kan ek gou?”
”As jy nie hier gaan rondloop met net jou handoek nie.” en hy glimlag.
”Ek kan die handoek in die badkamer los as jy wil.”
”Wil jy koffie hê?”
”Ek sal drink as ek klaar gestort het.” dan hoor hy hoe die ketel afskakel.
”Die water het gekook.” en hy knik.
Dan stap hy badkamer toe.
En daar word ons sowaar saam wakker.
Jy het my nie weer net hier gelos sonder om iets te verduidelik nie.
Maar daar is iets wat jou pla.
Hoekom is dit so maklik saam met jou?
Is dit omdat jy niks van my verwag nie?
”Wat eet ons?” hy het klaar gestort en sy is ook vars aangetrek.
”Ek kan vir ons eiers en broodjies maak.”
”Kom ons gaan eet gou iewers ontbyt.” stel hy voor en sy frons. ”Jy is reg, as die span eers aanmeld vir diens gaan ek besig wees.”
”En tot dan mag ek jou opgebruik?” en hy glimlag.
”Jy mag met my doen net wat jy wil.”
”Moenie vir my idees gee nie.”
”Kom ons ry.”
Dis net na nege toe sy foon lui. Hulle sit saam by ‘n koffie winkel en het al ontbyt bestel.
”Yes Leon.”
”Het jy die koerant gesien?”
”Watter koerant?”
”Die Afrikaanse Sondag koerant.”
”Nee, ek het nie.”
”Waar is jy?”
”Ek en Storm wag vir ontbyt.”
”Sy sal ook wil sien.”
”Hoekom?”
”Kry die koerant en kyk self.” en dan is die lyn dood.
”En nou?” vra sy en kyk fronsend na hom.
”Ons moet glo die koerant kry.” en sy frons.
”Hoekom?”
”Hy het nie gesê nie.” en hulle ontbyt word tafel toe gebring.
Later lui haar foon ook en sy frons toe sy die skerm lees.
”More Moeksie.” antwoord sy.
”En hoekom is jy op die Sondag koerant se voorblad?”
”Ek is wat?”
”Ek moet hier lees daar is weer allerhande goed waarvan ek niks weet nie. Jy het gesê dit sal net opleiding wees.”
”Ek verstaan nie.”
”Ek is op pad na jou woonstel toe.”
”Ek is nie daar nie.”
”Waar is jy?”
”Ek eet ontbyt saam met iemand.”
”Wie?”
”Eben van Jaarsveld.”
”Is dit Majoor Yster van Jaarsveld?”
”Ja.”
”Wanneer is jy weer by die huis?”
”Later.”
”Ons moet praat voor jy weer more werk toe gaan.”
”Oukei.”
”Ek sal dit waardeer as hy ook daar kan wees.” en sy kyk met groot oë na hom.
”Wat gaan aan?”
”Kry die koerant dan verduidelik julle vir my wat aangaan. Ek is elf uur daar.” en dan is dit stil in haar oor.
”Wat kan in die koerant wees?” vra sy en hy frons.
”My Ma het ook gesien en sy is nie gelukkig nie.”
”Wat het sy gesê?”
”Dat ek op die voorblad is.”
”Jy?” en sy knik. ”Hoekom?”
”Ek weet nie, maar sy sal dit waardeer as sy met jou kan praat voor more.”
”Met my?” en sy knik.
”Nog iets vir jou?” vra hy toe sy klaar geëet het.
”Nee, dankie.”
”Kom ons gaan kry ‘n koerant.” stel hy voor nadat hy betaal het en sy knik.
Fok, dis wie Jana Meiring is!
En hy lees vinnig die artikel op die voorblad.
Dan gee hy die koerant vir Aryna aan.
”Waar kry hulle hierdie ou foto?” vra sy verbaas toe sy na haarself kyk.
”Dis op jou personeel lêer.” en dan lees sy ook die artikel.
Toe sy klaar is kyk sy met groot oë na hom.
”Geen wonder my Ma is so ontsteld nie.” en hy lig sy wenkbroue.
”Waar kry… wie is die joernalis?”
”Jana Meiring.” en hy wys met sy vinger na die naam by die artikel.
”Is dit nie die vrou wat ons gister oggend gehelp het nie?” en hy knik.
”Ken julle mekaar?”
”Sy skryf al jare artikels oor my eenheid.”
”Waar sou sy die foto gekry het?”
”Ek weet nie.”
”Met wie het sy gepraat?”
”Met Minnaar.”
”Lourens?” en hy knik.
”Hy sal nie vir haar die foto kan gee nie.” en hy antwoord nie.
”Dink jy dit sal Leon wees?”
”Nee, ek dink nie so nie.”
”Maar hy sal weet?”
”Ek sal later met hom praat.” en vir ‘n ruk is dit stil in die bakkie terwyl sy weer die artikel lees.
”Hoekom is jy so ongelukkig? Meeste van wat sy sê is die waarheid.” en hy reageer nie.
”Majoor Yster van Jaarsveld gaan ‘n taktiese span in Johannesburg en Hillbrow ontplooi en almal wag al jare vir hierdie positiewe ontwikkeling.” begin sy vir hom lees.
”En hier praat sy van jou eenheid se goeie statistieke en weer die positiewe verandering wat gesien word wanneer jy ‘n nuwe Ysterbrigade span ontplooi.” en sy kyk vraend na hom.
”Dis nie ‘n slegte artikel nie.”
”Dit maak nie saak nie. Sy kry inligting en maak haar eie gevolgtrekkings.”
”Die enigste gevolgtrekking wat sy verkeerd gemaak het is dat ek deel gaan word van jou span.”
”Sy het my gisteroggend mislei vir inligting.”
”Het sy met jou gepraat?”
”Ja, sy het my uitgevra, maar ek het nie genoeg aandag gegee nie.”
”Hoekom nie?”
Want ek was bekommerd oor jou.
Dis al waaraan ek gedink het.
Jy gaan my hele lewe oorneem.
”Omdat sy gaaf en vriendelik was.” antwoord hy en sy kyk verbaas na hom.
”Sy het geweet wie jy is?” en hy knik. ”En jy het geweet wie sy is?”
”Ek het haar naam erken maar ek kon haar nie plaas nie.”
”En die ander artikels?”
”Sy kry altyd iemand wat bereid is om met haar te praat.”
”Dis die eertse keer wat sy self met jou gesels het?” en hy knik.
”Hoekom praat jy nie self met haar nie? Dan kan jy die inhoud beheer.”
”Omdat ek my spanne moet beskerm.”
”Dalk verstaan jy haar net verkeerd.”
”Nee, ek doen nie.” en dan vra sy nie verder uit nie.
”Hoe laat wil jou Ma my sien, het sy gesê?”
”Elf uur.”
”Wil jy gou gaan kos koop?”
”Kan ek gou?” en hy knik.
Hy ry na dieselfde sentrum waar sy verlede jaar die kind in die speelgoed winkel gekry het en
parkeer onder die dak.
”Jy hoef nie saam te kom nie.” en hy kyk verbaas na haar.
”Jy het my die vorige keer ook buite gelos.”
”Omdat ek kan onthou my Pa het niks daarvan gehou nie, my Ma het dit altyd alleen gedoen.”
Ek is nie jou Pa nie.
Ek wil alles saam met jou doen.
Fok!
Ek het niks daarvan gehou toe Amanda dit wou doen nie.
Ons het dit ook nie saam gedoen nie.
Ek moet die ding vinnig onder beheer kry.
Ek gaan aan soos ‘n fokken skoolseun.
”Ek sal gaan koffie drink waar ons koek geëet het.” stel hy voor en sy knik.
”Oukei, ek sal jou daar kry.” en toe klim sy uit.
”Ek sal dalk lank wees, dis gewoonlik vol op ‘n Sondag.”
”Kry wat jy nodig het, ek sal wag.” sy glimlag vinnig en dan stap sy weg en hy kyk weer na die
koerant en sug diep.
Hoe gaan ek die inhoud van haar artikels kan beheer?
Dan klim hy ook uit en stap na die koffie winkel by die ingang van die sentrum.
Dis oral vol en hy gaan staan in die son toe sy foon lui.
”More Tilla.”
”More Boeta, het jy al die koerant gesien vanoggend?”
”Ja, ek het.”
”Is die kind nie te jonk nie?”
”Watter kind?”
”Aryna Storm, die meisie op die voorblad.”
”Dis ‘n ou foto.”
”Sy lyk so hartseer, het daar iets met haar gebeur?”
”Dit was lank gelede afgeneem toe sy klaar gemaak het met haar College opleiding.”
”En nou is daar sowaar ‘n vrou in jou span?”
”Nee, Ma. Sy is nie in my span nie.”
”Dis nie wat in die artikel is nie.”
”Ek weet, ek het gelees.”
”Hoekom sal die Jana Meiring dan so storie publiseer?”
”Ek weet nie.”
”Is dit dalk die meisie wat vis eet?” vra sy versigtig.
”Ja, dis sy.” antwoord hy eerlik en dan wag hy vir baie vrae.
”Hoe het dit toe gegaan met jou opleiding?” vra sy onverwags.
”Dit het goed gegaan, al die manne het dit gemaak.”
”Ek sien sy het ook?”
”Ja, sy het.” en weer wag hy vir vrae.
”Is jou span al aangekondig?”
”Nee, eers more.”
”Ek dink jou susters gaan ook bel.”
”Hulle sal seker.”
”Wanneer begin jy in die stad?”
”Ek het ‘n paar dae om die administrasie in orde te kry voor ons begin.”
”Wees versigtig my kind.”
”Ek is altyd versigtig.” en dan sien hy hoe ‘n kelner nader staan.
”How many?” en hy lig twee vingers.
”Ek hoor jy is iewers, ek gaan groet.”
”Bye Tilla.”
”Please follow me.” en hy word na ‘n ronde tafel begelei waar hy gelukkig die deur kan sien.
”Are you waiting for somebody?” en hy knik.
”Do you want to drink something while you wait?”
”One americano please.”
”Hot or cold milk?”
”No milk.” en terwyl hy wag lui sy foon weer.
Hy glimlag toe hy sien wie bel.
”Hallo nuuskierige agie.” groet hy vriendelik.
”Het jy die koerant gesien?” vra Petro.
”Ja, ek het.”
”Hoe kan jy haar in jou span sit, sy is twaalf?”
”Nee, sy is nie.”
”In jou span of twaalf jaar oud?”
”Sy is nie in my span nie en sy is nie twaalf jaar oud nie.”
”Hoekom lyk sy so hartseer?”
”Dis ‘n ou foto.”
”Is sy jou horlosie?”
”My wat?”
”Tilla se droom, is sy jou horlosie?”
”Gaan ons weer die hele ding doen, Tilla het daai aand te veel vleis geëet?”
”Jy gaan my nie vertel nie.”
”Nee, Petro. Ek gaan nie vir al jou nuuskierige vrae val nie.”
”Waar is jy, ek hoor mense?”
”Ek drink koffie.”
”In ‘n koffie plek?”
”Ja.”
”Alleen?”
”Ja, alleen.”
”Ek glo jou nie, jy sal nie net sommer alleen gaan koffie drink nie.
”Is jy weer saam met die meisie wat vis eet?”
”Op die oomblik sit ek alleen en wag vir my koffie.”
”Oukei, as jy my nie wil sê nie, sal ek vir Tilla vra. Het jy al met haar gepraat?”
”Ja, ek het.”
”En?”
”En wat?”
”Wat het sy gevra?”
”Sy is nie so nuuskierig soos jy nie, sy kan haarself beheer.
”Jy moet vir haar vra om jou te leer hoe sy dit regkry.”
”Spoil sports.” en hy lag saggies. ”Het sy toe ook jou vreeslike opleiding gedoen?”
”Wie?”
”Hierdie Aryna Storm pop op die voorblad?”
”Ja, sy het.”
”En klaargemaak?”
”Ja, sy het.”
”Sien jy, vroumense kan dit ook doen.”
”Mmmm.”
”Dis al wat jy gaan sê?”
”Mmmm.”
”Ag man, hoekom mag ek nie weet nie?”
”Omdat jy skinder.”
”Ek skinder nie.”
”Mmmm.” en dan lag sy vrolik.
”Moenie met die meisie wat vis eet trou voor ons haar ontmoet het nie.”
”Ek sal nie.”
”Bye.” en hy sit die foon met ‘n groot glimlag terug in sy sak.
”You want a paper while you wait, sir?” vra een van die kelners en hy knik.
”Afrikaans or English?”
”Lets try the English one.” en hy drink sy koffie en blaai halfhartig deur die koerant.
Petro is reg, ek sal nooit alleen kom koffie drink nie.
Nou wil ek tot saam met jou gaan kos koop.
Wat nou van jou Ma?
Gaan sy nog ‘n Daleen wees?
Sy is nie, sy dink aan ander mense ook.
Rochelle het ook gedink jy lyk hartseer.
Wat sien hulle wat ek nie sien nie?
Dan sien hy haar met twee sakkies by die restaurant se ingang en hy maak die koerant toe. Een van die kelners staan nader en dan sien sy hom.
”Hallo Majoor.” groet sy toe sy kom sit.
”Hallo Kaptein.”
”Het jy klaar koffie gedrink?” en hy knik.
”Ek kan weer drink as jy wil koek eet.”
”Ons het al ontbyt ook uitgeëet.” en hy kyk verras na haar.
”Ek wou nou die aand al vir jou koek gekoop het en toe was daar nie.” en sy glimlag groot.
”Is daar nog tyd, my Ma gaan nie daarvan hou as sy moet wag nie?” en hy kyk op sy horlosie.
”Nee, nie regtig nie.”
”Dan moet ons liewers gaan.” hy knik en saam staan hulle weer op en die kelner kom vinnig nader.
”Is everything alright?”
”Yes its fine, where do I pay?”
”At the door.” hulle kyk saam en sien die betaalpunt.
”Kom, jou Ma wag vir ons.” sê hy toe hy klaar betaal het en die sakkies by haar gevat het.
”Miskien moet ek vir haar sê om liewer met Leon te praat.” stel sy voor en hy frons.
”Hoekom?”
”Omdat sy moeilik kan wees.”
”Jy is haar dogter, sy kan seker moeilik wees as sy wil.”
”Maar ek gaan nie in jou span wees nie, die artikel is verkeerd daaroor.”
”Dan sê ons dit mos vir haar.”
”Is jy seker?”
”Ja, ek is seker.” toe hy voor haar woonstel parkeer sug sy effens.
”Sy is nog nie hier nie.” en saam klim hulle uit en hy sien hoe sy weer saggies aan die verband vat.
”Is jy weer seer?” en sy knik effens.
”Wil jy gou een van die pyntablette drink?”
”Nee, eers met my Ma praat.” en hy glimlag.
Hulle stap saam in haar woonstel in en terwyl sy die pakkies uitpak klop iemand aan die deur.
Sy haal diep asem en gaan maak die deur oop.
”Hallo Moeksie.” groet sy en Yster onthou die vrou wat saam met haar by die kwekery was verlede jaar.
Sy is ‘n mooi vrou en weer sien hy die ooreenkoms in haar mond.
”Hallo Aryna.” en vinnig soen hulle mekaar.
”Jy is weer maer.” merk sy op maar Aryna reageer nie.
”Dis Majoor Yster van Jaarsveld.” stel sy hom voor en dan kyk sy ondersoekend na hom.
”My Ma, Rina Storm.”
”Goeie more, Mevrou.”
”Majoor.” erken sy die groet
”Ek kan koffie maak?”
”Nee, dankie. Ek kan nie bly nie, tannie Stien wag vir my.” en dan kyk sy in Yster se donker oë.
”Majoor, volgens die koerant artikel is sy die eerste vrou wat jy opgelei het?”
”Dis reg.”
”Die vrou sê ook dat sy nou in jou span is?”
”Sy is nie.” ontken hy die inligting.
”Aryna?” vra sy en kyk fronsend na haar.
”Ek is nie.”
”Maar wat van die koerant artikel?” vra sy en frons weer.
”So groot koerant sal nie sommer verkeerde inligting publiseer nie.
”Sy het seker met iemand gepraat vir haar inligting.”
”My span word eers more aangekondig.” verseker Yster haar.
”En sy is nie ingesluit nie?” maak sy seker.
”Nee, sy is nie.” herhaal Yster en vir ‘n oomblik kyk sy weer na haar dogter.
”En die opleiding?”
”Wat daarvan?” vra Aryna.
”Het jy dit deurgesien?”
”Ja, sy het.” antwoord Yster namens haar.
”En Henk?”
”Ja, hy ook.” antwoord Aryna vinnig.
”Gaan hy in jou span wees?” vra Rina en kyk na Yster.
”Ja, hy gaan.”
”Wat word nou van jou?” vra sy vir Aryna.
”Ek gaan terug gewone diens toe.”
”Ek sien.” en dan kyk sy ernstig vir Yster.
”Daar is hierdie idee dat vrouens mans moet help groot word?” en hy knik.
”Dis ‘n wanopvatting, net volwasse mans kan ander mans laat groot word.” en hy frons effens.
”Ek hoop jy kan Henk Greyling help.”
”Ma! Los vir Henk uit.” maak Aryna dadelik kapsie.
”Hy gaan nooit ‘n vrou kry as hy so aangaan nie.”
”Dit het niks met jou te doen nie.”
”Maar dit het iets met hom te doen.” en Rina kyk weer na Yster.
”Nee, dit het nie.”
”As hy saam met ‘n gewapende span in Hillbrow en Johannesburg se strate wil rondhardloop moet dit seker mans wees wat nie meer kinders is nie.” en Yster glimlag effens.
”Hy is nie ‘n kind nie.” verdedig Aryna haar vriend.
”Hulle moet almal van jou hou as dit die Ysterbrigade genoem word?” merk sy op en kyk weer
ondersoekend na hom.
”Almal het vir hom gewag om aansoek te doen.” probeer Aryna die oomblik beheer.
”Nog iets voor ek gaan.” en sy kyk weer na Aryna.
”Ek mis die pers dinosaur speelding wat klein Marius vir my gegee het, weet jy dalk waar dit is?”
”Dis seker net op ‘n ander plek.” en dis die waarheid.
”Mmm, ek sal weer kyk.” en saam stap hulle na die voordeur.
”Daar is ‘n stoel weg.” en sy wys na die sitkamer.
”Dis in my kamer.”
”Bring dit terug, jou hele vertrek is nou ongebalanseerd.”
”Ek sal later.” dan draai sy na Yster.
”Tot siens, Majoor.” en sy steek haar hand na hom toe uit.
”Tot siens, Mevrou.” en hy skud haar hand vinnig.
”Aryna loop saam.” sy kyk vinnig vir hom en hy glimlag effens.
”Moet ek weet hoekom hy hier is?” vra Rina toe sy by haar motor gaan staan.
”Ons het saam gaan ontbyt eet.” en sy kyk agterdogtig na haar.
”Jy gaan nooit saam met iemand eet wat saam met jou werk nie.”
”Ja, ek gaan.”
”Nie alleen nie.” en sy kyk ongelukkig na haar Ma.
”Jy weet Patty gaan my alles vertel sodra sy my weer sien.”
”Daar is niks om verder te vertel nie.”
”Ek hou van hom, hy het my nie getannie nie en hy weet hoe om nie ‘n vrou se hand te hard te druk nie.” Aryna kyk ongelowig na haar.
”Dis hoekom jy hom met die hand gegroet het?”
”Ja, jou vriend Henk het ‘n pap hand as hy mens groet.”
”Nee, hy het nie.”
”Hoe oud is Yster van Jaarsveld?” vra Rina en kyk na haar woonstel se deur.
”Agt en dertig.”
”Hoekom is jy weer so maer?”
”Ag Ma, ry, Tannie Stien wag vir jou.”
”Goed, dan ry ek.”
”Bye.” en sy staan en kyk hoe sy ry.
Wanneer sy terug gaan woonstel toe staan Yster in die deur.
”Sorrie. Sy kan baie uitgesproke wees.” maak sy dadelik verskoning.
”Ek het jou gesê sy moet liewer met Leon praat.”
”Mens kan hoor sy het jou grootgemaak.” en sy kyk met groot oë na hom.
”Ek is nie soos sy nie. Sy is ‘n regte onderwyseres wat vir almal wil voorskryf hoe om te leef.”
”Ontspan, my oudste suster is ook een, ek verstaan wat jy bedoel.” en sy stap weer terug kombuis toe om die laaste goed vinnig weg te pak.
”Jy het regtig die pers dinosaur gesteel?” gesels Yster met haar terwyl sy besig is.
”Gegaps of geleen. Ek steel nie.”
”Weet sy jy het seergegkry?” en sy skud haar kop. ”Hoekom nie?”
”Sy sal met my baklei.”
”En as Patty haar vertel?”
”Dan is ek weer reg.”
”Jy het weer vir my koffie gekoop.” sien hy verbaas en sy knik.
”Maar jy maak vir jouself.”
”Is jy nog seer?” en sy vat weer aan die verband.
”So effens.”
”Ek moet ry.” en sy kyk verras na hom.
”Jy gaan nie weer kyk dat ek eet en my pille drink nie?” vra sy spottend.
”Nee, ek moet huis toe gaan.”
”Dankie vir alles.” en hy knik.
”Is jy kwaad oor iets?” en sy kyk fronsend na hom.
”Jy was nie heeltemal gelukkig vanoggend nie.”
”Oor die span?”
”Ek weet nie.”
”Ons het mos daaroor gepraat.”
”En oor gisteraand?” en sy frons weer. ”Ons het weer saam geslaap.”
”Kom ons vertel niemand daarvan nie.” stel sy voor. ”Ek dink nie almal sal verstaan nie.”
”Verstaan jy?”
”Ek verstaan dat jy gebly het om seker te maak ek oorleef.” en hy knik en bly vir ‘n rukkie staan.
Is dit wat ek wil hê jy moet dink?
”Sien jou more?” en sy knik terug. ”Eet en drink jou pille.”
”Ek sal.” dan stap hy uit en kom terug.
”Moet ek vir jou die stoel terug skuif?” en sy skud haar kop.
”Gaan sy nie more kom kyk nie?”
”Dis te ver om te kom kyk of my sitkamer weer gebalanseerd is.” hy glimlag en gaan klim in sy
bakkie en gaan terug na sy eie wêreld waar hy die prioriteite bepaal.
Net een ding op ‘n slag.
Dis of Johannesburg en Hillbrow of jy.
En vir die oomblik is dit Johannsburg en Hillbrow.
Jy is reg, ek het net gebly om seker te maak jy oorleef.
Want daar gaan nie tyd wees vir alles wat ek wil hê nie.
Net een ding op ‘n slag.
”Yes Yster.” groet Leon toe hy die voordeur oopmaak. ”Ek het vir jou gewag.”
”Waar de fok kry Jana Meiring al haar inligting?” en hy lig die koerant hoog op.
_
Hierdie storie en karakters is heeltemal fiktief.
Plekke is nie.
Party mense en geskiedenis ook nie
